2 maande gelede
Ma is in vrees
MA SE SMART: Annie Fortuin hoop haar seun sal in staat wees om sy aanvaller uit te ken. Lee-Ann, haar kleindogter, is by haar. Foto’s: Basil Davids  ~ 

ASHTON. – Duane Fortuin, wat byna drie weke vermis was, lê in ’n hospitaal se ICU waar hy om sy lewe veg.

Son het Vrydag berig Duane­ (29) en Nishaan Fredericks (30), sy tjomma, wou op ’n plaas buite die dorp teerpale gaan steel het.

Fredericks het vertel die betrokke boer het hulle op heter daad betrap.

Volgens Fredericks het hy en Duane toe probeer weghol, maar die boer het hulle beveel om stil te staan anders skiet hy hulle.

Volgens Fredericks het hy gesien hoe die boer ’n gun uitpluk en kort daarna het Duane neergeval.

Fredericks het verduidelik hy het toe van die plaas af weggehol en weet nie wat verder met Duane gebeur het nie.

Gister het Duane se ma, Annie Fortuin, in trane gesê sy is bly haar seun is gevind.

“Ek het Maandag­oggend verneem dat my kind in ’n hospitaal opgeneem is nadat mense op hom afgekom het,” het Annie vertel.

Bosse

Annie het gesê sy verneem by die speurders dat plaaswerkers op hom afgekom het die dag nadat Duane­ as vermis aangemeld is.

’n Bewustelose Duane is in digte bosse op ’n verlate plek op die Stormsvlei-pad gevind.

“Ek hoor dat my kind in ’n plas bloed gelê het toe die werkers op hom afgekom het,” het ’n hartseer Annie vertel.

Sy het bygevoeg Duane is per helikopter na ’n hospitaal gevlieg waar dokters ’n noodoperasie op hom uitgevoer het.

“My arme kind het breinskade opgedoen en sy skedel is van sy voorkop tot by sy agterkop oopgeslaan,” het Annie gesê en toe in trane uitgebars.

Sy het verduidelik toe sy Duane Maandag in die ICU gesien het, was hy aan masjiene gekoppel.

“Toe ek aan sy hand vat en sy naam roep, het hy sy oë oopgemaak.

“Toe ek hom vra wie dit aan hom gedoen het en ’n man se naam aan hom genoem het, het hy my hand styf gedruk.”

Die bekommerde ma het bygevoeg sy vrees nou dat die verdagte sal uitvind in watter hospitaal haar seun is.

“Ek het reeds gevra dat daar 24 uur toesig by Duane­ moet wees,” het Annie gesê.

Gister het gemeenskapswerkers ’n bidsessie vir Duane­ gehou sodat hy in staat sal wees om self te vertel wat presies met hom gebeur het.

Danny Jacobs, ’n gemeenskapsleier, het gister beloof hy sal toesien dat reg en geregtigheid geskied.

AO Sylvester Joseph, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig Duane is agter op die bakkie van die betrokke boer gesien op die dag toe hy as vermis aangemeld is.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters