7 dae gelede
Ma en seun ná 25 jaar byeen
Uiteindelik: Trane van vreugde loop toe Diana Afrika vertel van haar jare se gehunker na haar seun.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Ná 25 jaar is ma en seun herenig.

Diana Afrika (45), ’n plaaswerker, is Woensdag in Saron met haar jongste seun, Gavin Afrika (27), herenig.

Diana se werkgewer, Mario de Bruyn, het Diana Woensdag Saron toe geneem waar die twee mekaar ná al die lang jare weer ontmoet het.

Gavin was oorstelp van vreugde. Hy sê hy het geweet die dag sal eendag aanbreek.

’n Opgewonde Diana sê Gavin was maar net 2 jaar oud toe sy pa hom op ’n dag saam met hom werk toe gevat het.

Uitgepak

“Hulle het nooit weer daai aand terug huis toe gekom nie,” vertel Diana in trane.

Volgens haar het hulle ’n ouer seun wat hy toe by haar agtergelaat het.

“Ek het altyd aan my ander seun, John, gesê dat hy ’n broer het, maar ek weet nie waar hy is nie.”

Volgens haar het sy sowat drie weke gelede teenoor De Bruyn se vrou, Chantel, uitgepak oor haar verlede en hoe sy na Gavin verlang.

Chantel het toe uitgevind dat Gavin by sy grootmaak-ma in Saron is. De Bruyn sê hy het Diana in sy kar gelaai en Saron toe gery.

Alles was ’n groot verrassing.

Beide ma en seun was oorstelp van vreugde en kon nie ophou om mekaar drukkies en soentjies te gee nie.

Diana sê met trane in haar oë daar het dae en nagte verbygegaan, maar sy het God altyd gevra om haar verlore seun veilig te hou.

“Ek wou Gavin baie gaan opsoek het, maar ek was so bang as ek my man saam met Gavin vind, sal hy my doodmaak,” snik Diana.

Strate

Gavin sê hy het altyd geweet hy sal eendag weer sy mammie ontmoet.

Hy vertel toe hy vier jaar oud was, het hy op straat gebly.

’n Antie het hom van die strate kom haal waar hy en nog onder bokse geslaap het.

“Ouma Ansie het my grootgemaak,” vertel hy hartseer.

Sy pa is sewe jaar gelede oorlede en hy het John of Diana ook nooit daarna gesien nie.

Diana sê sy voel vandag so bly dat sy Gavin weer in haar arms kan vashou.

Gavin sê hy dank God vir wat in sy lewe gebeur het en is bly dat sy ma nog leef.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters