3 dae gelede
Ma en seun: Cops rand ons erg aan
TRAUMATIESE ERVARING: Karen Voster sê sy is “soos ’n man” deur die cops aangerand.  ~ Foto Verskaf

EENDEKUIL. – ’n Ma en haar seun het na be­wering sleg onder veglustige cops deurgeloop.

Karen Voster (34) en haar 19-jarige seun, Jayden, is glo oor die naweek erg deur die cops aangerand.

Karen sê sy het Vrydagaand ná 22:00 saam met haar seun en sy vyf vriende om ’n vuur gesit toe ’n meisie wat langs hulle bly, dié se suster, wat ook by die vuur gesit het, met ’n mes wou bykom.

Sy vertel: “In daai sta­dium kom daar ’n polisie-vên in die straat af gery en ek stop hulle toe. Ek sê toe vir die een polisieman die meisie kom maak moeilikheid in ons jaart en sy het ’n mes.

“Toe sê hy: ‘F*k! Sort jul eie k*k uit en bly in jul jaart, want julle tart my.’

Skree

“Dié beampte het al vir ons gesê hy hou nie van ons nie omdat my neef voorheen met sy meisie gevry het.

“Hulle ry en toe kom daar nóg ’n vên.

“Die eerste een stop ’n entjie verder en ek stop die tweede vên. Toe reverse die eerste een en die cop wat my so sleggesê het, skree toe vir die twee cops by my: ‘Laat sy loop n**i.’

“Toe skree ek vir hom hy moet dit ook loop doen.

“Die cops is daar weg, maar hulle keer toe kort daarna terug­. My seun en sy vyf maats hardloop toe weg, want hulle dink hulle gaan gelaai word oor die curfew.

“Toe ek daai onbeskofte cop by die hek konfronteer, stamp hy my met sy elmboog dat ek omval.

“Toe kom stop daar nog vyf vêns en hulle skiet toe rubberkoeëls agter in my jaart. ’n Kleinneef van my wat in ’n kar probeer skuil het, is skrams teen sy been getref.”

Die ma sê toe sy haar drie maande oue baba en haar ander twee kinders van ses en nege jaar in hul wendy oor die rumoer hoor huil, het ’n cop geweier dat sy na hulle omsien.

Sy is na be­wering buitentoe gesleep en soos ’n man in die vangwa geboender.

Sy vertel verder: “Ek het asma en toe spuit hulle traangas agter in die vên. Een cop trap my dieper in.

“Hulle het baie rof gery en toe ons by die polisie­stasie kom, is ek in ’n floute en my top en jeans is toe vol bloed. Ek het by my vrouedele gevloei van die beserings.

“Twee van my seun se vriende het daar kaal bolyf gestaan en is sopnat gespuit met net hul trunkies aan.

“Toe spuit hulle my ook nat. Daar is R300 uit my bra weg.”

Die cops het na Jayden gaan soek wat by vriende geslaap het. Sy ma sê hulle het omstreeks 02:00 die volgende oggend wakker geskrik.

Jayden vertel: “Toe die een cop my uit die bed ruk, klap die ander een my. Hulle vat my toe uit en skop en trap my en toe sit hulle my agter in die vên en spuit traangas in my oë.

“Twee cops klim toe agter by my in en slaan my tot by die polisiestasie. Nie een van hulle het maskers gedra nie.

“In die aanklagkantoor het hulle my hande en voete geboei en toe slaan hulle my verder. Ek is saam met my ander twee vriende toegesluit.”

Klagte

Jayden is later die dag per ambulans hospitaal toe geneem. Hy en sy ma sê albei die cops het geen rede gehad om hulle aan te rand nie.

Hulle is deur die staatsaanklaer ingelig dat hulle in kennis gestel sal word wanneer hulle in die hof moet verskyn.

Die waarnemende stasiebevelvoerder, AO David Landon, wou nie kommentaar lewer oor inwoners se klagte oor die beamptes se gedrag nie.

“Die ma en seun se klagte is geregistreer en na Opod (die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat) verwys vir verdere ondersoek,” is ál wat Landon bereid was om vir Son oor hierdie kwessie te sê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters