Verlede maand
Longe kapoet
verinneweer: Herman de Bruin het langer as drie jaar buite op ’n jaart geslaap.Foto’s:kallie smit  ~ 

SARON. – Twee manne wat op ’n jaart gewoon het, is dieselfde dag aan tuberkulose (TB) dood.

Herman de Bruin (33) het jare lank daaraan gely. Hy is ’n week gelede begrawe nadat hy op 29 Julie daaraan dood is. Son het drie jaar gelede berig dat De Bruin buite moet slaap omdat die bewoners van sy pa se Hop-huis weier om te trek.

Hy het toe vertel sy een long was “klaar” en dat hy net op sy een sy kan lê.

De Bruin het toe al vier maande buite geslaap op sy oom se jaart, agter die wendy van dié se eks.

Hy was kort voor sy dood so benoud dat hy snags met kaal bolyf gelê het terwyl die berge om die dorp met sneeu bedek was.

Sy pa, Hermanus, wat ook op die jaart gebly het, is ’n aantal jare gelede ook aan TB oorlede.

Agteruitgang

Daniël Klaase, wat in die 30’s was, is ook op 29 Julie aan TB oorlede. Hy sou gister begrawe word.

Klaase het die laaste tyd in die wendy waar­agter De Bruin geslaap het, met sy niggie gewoon

Alkohol- en dwelmmisbruik het heel waarskynlik bygedra tot die twee manne se agteruitgang.

Die pa van Klaase se niggie was ook ’n TB-lyer. Nóg bewoners daar ly daaraan.

Son op Sondag verneem betroubaar dat sewe jaartbewoners al TB opgedoen het.

Vermoedelik is die getal hoër, aangesien hulle saam drink en in uiters onhigiëniese toestande leef.

’n Beampte van die gesondheids­departement het aan Son op Sondag gesê die getal TB-gevalle is so hoog omdat die pasiënte nie hul TB-behandelings­program voltooi nie.

Die beampte sê: “Baie pasiënte hou op om hul medikasie te gebruik sodra hulle beter voel of totdat hulle ’n toelaag van Sassa kry.

“Hulle raak dan weer siek, maar baie van hulle gaan nie terug kliniek toe nie.”

Son op Sondag verneem ook Sassa wil die begunstigdes wat hul TB-behandeling onderbreek, identifiseer en hul toelaes staak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters