6 maande gelede
Loeriesfonteiners doen dit weer
tops: Die Boesmanland Bitterbessies het die crowd aan hul voete.Foto’s:Jean du Plessis/ATKV  ~ 
tops: Die Boesmanland Bitterbessies het die crowd aan hul voete.Foto’s:Jean du Plessis/ATKV

DIE riel is nie net riel nie, dis die verhaal van die siel.

Die rieldansgroep Boesmanland Bitter­bessies van Loeriesfontein in die Noord-Kaap het onlangs weer stof in die ander groepe se oë geskop.

Dit was toe hulle die tweede jaar in ’n ry die senior afdeling van die Rieldans-eindronde gewen het.

Die leier van dié groep, Maria Klaase, sê dit was vir hulle ’n aangename verrassing om weer as die champs gekroon te word.

“Ons het nie gedink dat ons dit twee keer in ’n ry sal doen nie,” sê Klaase.

wen-STAPPIES: Die Brandvlei Stofskoppers maak hulle dorp trots.

“Ons bestaan nou so 12 jaar en my span het regtig die trofee verdien, want hulle het baie hard gewerk daarvoor.”

Klaase sê haar groep van 12 lede streef daarna om die tradisie van die rieldans te laat voortleef. “Ons ouers het dié danse getrap en dis wonderlik dat die jonges die tradisie wil laat voortleef.

“Soms dink die jong mense­ die riel is nie vir hulle nie, maar riel is in ons siel.”

Die Boesmanland Bitterbessies gaan Saterdag ’n victory-dans in hulle dorp aanbied.

Klaase sê: “Ons voel nou soos celebrities en ons wil vir ons dorp se mense ook wys wat van ons kampioene gemaak het.”

gebore vir riel: Vir dié danser kan die wêreld maar vergaan.

Magrieta Schrader van die Brandvlei Stofskoppers was net so opgemaak met hulle trofee. Dié span het die o. 20-titel verower.

Moeilikheid

’n Verheugde Schrader sê: “Ek het grootgeraak met die rieldans. My ma, oupa – ag, ons hele familie – dans die riel. Dis die eerste keer dat ons teruggekeer het na Brandvlei as kampioene.

“Ek geniet dit om met kinders te werk en te sien hoe die rieldans hulle uit die moeilikheid hou.”

Die ander wenners is:

  • Buvin Eiman van die Betjies Rooirots Rieldansers (beste danser: senior mans);
  • Anechia Cloete van die Griekwa Ratelgat Rieldansers (beste danser: senior vroue);
  • Carlton Sass van die Prins Albert Vastrappers (beste danser: o. 20-mans);
  • Luwandri Schrader van die Brandvlei Stofskoppers (beste danser: o. 20-vroue);
  • Zanadann van Rooi van die Prins Albert Vastrappers (beste danser: o. 14-seuns);
  • Chesray Hendricks van die Uitsig Stof­trappers (beste danser: o. 14-meisies);
  • Phillip Mankapaan van Loeriesfontein (Pieter­ van der Westhuizen-toekenning vir die beste kitaarspeler);
  • Prins Albert Vas­trappers o. 20 (beste musikant) en
  • Prins Albert Vastrappers o.14 (beste liedjie).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters