8 dae gelede
Liegbek gee hof ’n vals naam
EMOSIONEEL: Angono Maputha was in trane tydens sy getuienis.  ~ Basil Davids

SWELLENDAM. – Brian Mudyiwayana (37), die vermeende reeksmoordenaar, is ’n liegbek.

Angono Maputha, ’n Zimbabwiër, het gister kom getuig hoe Mudyiwayana voor hom in ’n village in Zimbabwe grootgeword het.

“Sy geboortenaam is Linos­ Numodawafa en nie Brian Mudyiwayana nie. Hy belieg die hof. Daardie naam behoort aan sy neef,” het Maputha aan die hof gesê.

Maputha sê dat Mudyiwayana van jongs af ’n probleemkind was.

“Hy was vreeslik skelm en het toe hy 15 jaar oud was my draadloos gesteel,” het hy gesê. Naume Gwengwe (22) was ook een van Mudyiwayana se slagoffers.

Maputha sê hy en Gwe­ngwe het saam Suid-Afrika toe gekom waar hy vir haar ’n job sou kry.

Aangebied

Maputha sê hy het destyds in Worcester ook werk gekry. Volgens hom was Gwengwe soos sy eie kind.

Mudyiwayana het ook vir Gwengwe werk aangebied soos hy met al sy slagoffers gemaak het. Volgens Maputha is Mudyiwayana op 22 September 2017 met Gwengwe na haar nuwe job in Port Elizabeth. Toe hy probeer om Gwengwe te bel, het hy haar selfoon geantwoord.

“Hy het gesê dat hulle in ’n voertuig Port Elizabeth toe ry, maar ek het agtergekom dat hy my belieg,” het Maputha getuig.

Hy was toe op die spoor van Mudyiwayana en het hom in die Zolani-woonbuurt in Ashton gevind.

Maputha en sewe ander mans het Mudyiwayana agter in n bakkie gelaai en hom gevra waar Gwengwe is.

Hy het nog gesê Gwengwe is in Zweletemba. Toe hulle daar aankom, het hy weer gesê sy in Robertson by ene Bruce.

Volgens Maputha het hulle Mudyiwayana met skoenveters vasgebind. Hulle was op pad na Robertson toe cops hulle by ’n padblokkade aftrek.

Die cops het saam na “Bruce” gaan soek, maar kon hom nie opspoor nie.

’n Jaar later het ’n brandweerman op menslike oorskot op die N2-snelweg afgekom wat toe as dié van Gwengwe geïdentifiseer is.

Die saak duur vandag voort.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Kommentaar is gesluit vir hierdie artikel