6 dae gelede
Lidmaat vas vir inbraak by kerk
inbraak: Die VGK in Wellington wat skade gely het.FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIS een ding om by ’n kerk in te breek, maar om dan nog goed in die kerk te breek en rond te gooi, is totaal uit die bose.

Donderdagnag 30 September of in die vroeë oggendure van 1 Oktober is daar by die VGK Wellington Dorp ingebreek.

Wat dié storie eintlik hartseerder maak, is dat die vermeende inbreker voor­gestel is in die kerk en ’n lidmaat is.

Volgens Lewis Galand, voorsitter van die VGK se ondersteuningsbediening, is duisende rande se skade aangerig.

Galand sê die kerk is 80 jaar gelede gebou.

Volgens hom kan die skade tot R80 000 wees, maar hy reken dit is baie meer.

lelik: Die diewe het geen respek vir die kerk getoon nie.Foto verskaf

Die kerkorrel – wat 75 jaar gelede vanaf Duitsland ingevoer is – is ook beskadig, verduidelik hy.

Daar is net twee van daardie orrels in die land.

Galand vertel die inbreker het ’n venster gebreek om in te kom.

Rondgestrooi

“Hy het bo van die preekstoel af goed gegooi en gebreek.

“Die kanselkleed is middeldeur geskeur en op die grond gegooi. Drie ou Bybels se covers is afgeskeur en beskadig.”

onnodig: Inbrekers het items in die kerk rondgegooi.

Galand sê daar is ook in laaie gekrap en papiere is rondgestrooi. Kerse is in die kerk aan die brand gesteek.

“Dit het gelyk asof hy die kerk aan die brand wou steek. Daar is kerse op die mat gemors.

“Musiekbokse se drade is ook uitgetrek. Kandelare is van die mure afgeruk.

“Orrelpype is uitgebreek. Die orrelpype sal ingevoer moet word en ek weet nie wat dit gaan kos nie.”

Die man wat ingebreek het, is na verneem word aan tik verslaaf.

verniel: Die orrelpype is afgebreek om verkoop te word.

Galand sê die kerk gaan ’n fondsinsameling hou om die koste te help dek.

As daar mense is wat wil help, kan hulle Galand by 083 600 0643 bel.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n saak van inbraak word ondersoek en ’n man van omtrent 36 is gearresteer.

“Die voorval het omstreeks 07:00 die oggend gebeur. Toe die polisie op die toneel kom, was die man steeds in die kerk besig met vandalisme en hy is gearresteer. Die saak word ondersoek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters