9 maande gelede
‘Leier ignore ons’
TOEGEKAP: Toe hekke begroet die betogende inwoners.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Die woorde “amandla, genoeg is genoeg!” het gister voor die munisipale kantore weergalm toe woedende mense daar saamgetrek het.

Inwoners het voor die kantore opgeruk om mond uit te spoel oor dienslewering wat in hul onderskeie woonbuurte niks meer as ’n mooi droom is nie.

Kort nadat Schalk van Eeden die pos van mayor gevul het, het die Ashton Informal Settlement Crisis Committee ’n lys griewe oor ser­vice delivery aan hom oorhandig.

Anile Klaas, die woordvoerder van dié komitee, sê Van Eeden het nog nie respond nie, al is hy nou al meer as twee weke in die amp.

“Ons het hom uitgenooi om vandag met ons te meet, maar hy wil ons nie te woord kom staan nie,” beweer Klaas.

Volgens Klaas het die mense – wat aan verskillende politieke partye behoort – gister vreedsaam na die munisipaliteit opgetrek sodat Van Eeden hulle te woord kon staan.

Nog ’n komiteelid, Juan Williams, sê hulle het opnames gedoen oor inwoners wat nou al lank op ’n waglys is vir ’n Hop-huis.

“Ons het ook in die skrywe genoem van werkskepping, water en sanitasie, asook die feit dat ons mense nie in dié boekjaar huise gaan kry nie,” sê Williams.

Mense het in groot bondels opgetrek.

Die polisie moes inspring.

Hulle het die mense gevra om social distancing toe te pas.

Die mense was egter min gespin en het voortgegaan om freedom songs te sing.

Antie Gertruida Lewis (66) sê sy woon steeds in ’n hok wat lek.

“Ek het ook vandag, met my bors wat nie so lekker is nie, kom luister wat die nuwe mayor vir ons te sê het, maar ek het dan nou verniet so ver geloop,” het Lewis uitasem gesê.

Die mense sê as hulle nie binne die volgende twee dae van Van Eeden hoor nie, gaan Ashton brand.

Riaan de Jong van die Langeberg-munisipaliteit se burgemeesterskantoor sê op sy beurt Klaas speel nie heeltemal oop kaarte nie.

De Jong verduidelik: “In die eerste plek was dit ’n onwettige optog – geen aansoek is deur die groep ingedien nie.

“Daar is reëls vir so ’n optog.

“Tweedens is mnr. Klaas, wat die leier van die groep is, maar skraps met die waarheid.

Betyds

“’n Uitnodiging ís aan hom gestuur vir ’n vergadering op 26 Augustus.

“Mnr. Klaas en sy verteenwoordigers het nie betyds vir die vergadering opgedaag nie.

“Hulle was 30 minute laat. Die burgemeester en amptenare het toe reeds verdaag om hul ander afsprake na te kom.”

De Jong sê daar is toe aan Klaas gesê dat die munisipaliteit teen vandag skriftelik aan hom sal terugvoer gee oor die beswaarskrif.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters