13 dae gelede
Leier aangeval op Facebook
Mark Mentor  ~ FOTO’S verskaf

“DIE lewe is te kort om mense snert te vertel.”

Só sê Mark Mentor, die Demo­cratic Association of Witzenberg Independence (Dawi) se leier. Dit volg ná aanvalle op Facebook teen hom en ander politieke figure in Ceres deur ’n Good-party-kandidaat in die Witzenberg-munisipaliteit, Jimmy van Wyk.

Mentor sê Van Wyk is die laaste paar weke op die oorlogspad in die sosiale media.

Mentor is die Dawi-burgemeesterskandidaat in die Witzenberg-munisipaliteit. Hy is ook die voorsitter van die Ceres gemeenskapspolisiëringsforum.

Volgens Mentor is Van Wyk se smeerveldtog gemik teen byna almal wat hy as ’n dreigement beskou in sy missie om op 1 November as mayor gekies te word.

Mentor sê hy het twee klagte van crimen injuria teen Van Wyk by Ceres se polisiestasie aangemeld. Dit nadat Van Wyk op Facebook beweer het Mentor het iemand uit R20 000 gekul.

Mentor sê hy het geen probleem met electioneering nie, maar as ’n mens hom sonder bewyse begin aanval, gaan hy nie stilbly nie.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, bevestig die sake van crimen­ injuria.

“’n Man (57) is gearresteer­ en gewaarsku om 20 Oktober in die Ceres-landdroshof te verskyn,” sê Twigg.

Hangend

Van Wyk sê hy werk met ’n NPO wat mense met behuisingsake help. Hy het hier gehoor dat Mentor iemand “ingeloop het”. Volgens hom is daar ’n siviele saak hangend in dié verband.

“As die polisie sy werk drie jaar gelede gedoen het, sou dit nie nodig gewees het vir ons om in te gryp nie.

“Maar die polisie is deel van die cover-up, want Mark Mentor is die voorsitter van die GPF.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters