10 dae gelede
Leerders mis hul eerste dag
DING RUK: So het die paaie Maandag gelyk.  ~ Foto Verskaf

LEERDERS van Grabouw het Maandag hul eerste dag van skool misgeloop nadat inwoners oor grond baklei het.

Dié optog volg nadat bruin mense in Grabouw voel hulle kan nooit onwettig grond beset nie, maar swart mense kan wel.

Volgens John Michels, voorsitter van die Theewaterskloof Civic-organisasie, is die optog deur politieke partye aangehits.

Michels sê bruin mense in Grabouw sukkel al die afgelope 20 jaar om grond te bekom.

Hy verduidelik: “Alle pogings oor die jare was egter onsuksesvol.

“Ja, grond is beset en omdat ons met ’n munisipaliteit sit wat nie omgee vir sy mense nie, het swart mense gesien hulle gaan nie gehelp word nie en hulle het grond gaan beset waarop hulle nou nog bly.

Tevergeefs

“Dít terwyl bruin mense maar gesit en wag het en gehoop het hulle gaan grond kry.

“Hulle gewag was egter tevergeefs en met die jare het die bruin mense se behoefte vir grond net groter geraak.

“Dit het die punt bereik waar bruin mense sê: Tot hier en nie verder nie!

“Swart mense in Grabouw het geen behoefte aan grond nie, want hulle het nie vir ’n munisipaliteit gesit en wag nie.

“Hulle het geweet hulle gaan nooit gehelp word nie.

“Ek daag enige iemand uit om te bewys waar in Grabouw het swart mense ’n behoefte aan grond en behuising.”

Volgens Michels is die optog vooraf beplan om op die eerste dag van die nuwe skooljaar gehou te word.

Hy sê dit is baie onverantwoordelik nadat kinders alreeds so baie verloor het weens die Covid-19-pandemie.

Isabel Bailey, ’n gemeenskapsleier en ook ’n ouma, sê die kinders was só opgemaak om terug te gaan skool toe, veral dié wat vir die eerste keer skoolgaan.

Bailey sê toe die kindertjies kos by haar sopkombuis kom haal, kon sy die hartseer op hul gesiggies sien.

Sy vertel: “Jy kon op baie se gesiggies die teleurstelling sien.

Druip

“Baie van hulle het uitgesien na die voedingskema en hulle was nuut aangetrek.

“Hulle het gesê die mense moenie so klipgooi en tyres brand nie, anders gaan hulle druip.

“Ek dink die vakansie was hopeloos te lank.

“Jy kon sien hoe die blydskap op hul gesiggies verander toe hulle nie skool kon bywoon nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters