4 maande gelede
Laitie leef ná hy 6 m ver val
BROEDERLIEFDE: Elaine Arendse sê Reahano (links) se liefde vir Milvino het gesorg dat hy die val oorleef.  ~ Basil Davids

WORCESTER. – Dit is net ’n groot wonderwerk dat ’n seuntjie nog lewe nadat hy 6 m ver vanaf ’n balkon geval het.

Sondag omstreeks 10:00 was daar groot drama by die Roodewal-flêtse toe die tweejarige Milvino Arendse vanaf ’n balkon na benede tuimel.

Maar Milvino het nóg ’n kans op lewe gekry – en die trane van blydskap daaroor rol steeds oor die familie se wange.

’n Vriend van die familie, Shaun April, sê die betrokke Sondagoggend sal vir die res van sy lewe in sy herinneringe bly.

’n Steeds emosionele April vertel Milvino het saam met hom na bure op die heel boonste verdieping van die flats geloop.

Volgens April onthou hy nog dat hy Milvino se hand vasgehou het.

“Die next oomblik het ek nog saam met die buurman gepraat en toe net gevoel hoe Milvino aan my jeans gryp en toe sien ek hoe hy van die balkon val,” sê ’n steeds geskokte April.

Volgens hom het hy onmiddellik ondertoe gehardloop. Hy het gesien Milvino wil opstaan van die trap waarop hy kliphard te lande gekom het.

In ’n video wat Son onder oë gehad het, kan die hele angswekkende drama duidelik gesien word.

Milvino val teen ’n spoed van die balkon af en beland met sy kop eerste op die trap. Dan lê die seuntjie ’n oomblik lank doodstil.

Sy mammie, Millicent Arendse (27), kom dan ook afgehol en probeer Milvino help.

April sê hy kon dit nie glo nie toe hy sien die klein seuntjie probeer ná daardie harde val nog om op te staan.

Mense het na die toneel gestroom; hulle het gedog Milvino lê dood daar.

Hy is toe in ’n kar gelaai en inderhaas na die Worces­ter-hospitaal geneem.

Sterk

Milvino is kort daarna met ’n helikopter geneem na die Rooi Kruis-kinderhospitaal, waar hy onmiddellik vir kop- en nekbeserings behandel is.

Gister het die familie gesê klein Milvino het net ligte beserings aan sy kop opgedoen en dat die dokters dit as ’n miracle beskryf.

Millicent het gister uit die hospitaalsaal gesê Milvino sterk goed aan.

Klein Milvino het ook in ’n voice message aan die familie gesê hy kom binnekort huis toe.

Milvino se ouma Elaine Arendse het sy oudste boetie, Reahano (8), vasgehou en gesê sy is so dankbaar dat God Milvino uitgespaar het, want Reahano is so baie lief vir hom.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters