Verlede maand
‘Lafaards’ dalk, maar hulle lewe
Middel van nêrens: Die Magwaleni-plakkerskamp sien soos ’n vlugtelingkamp daar uit.Foto’s: MELINDA STUURMAN  ~ 

WORCESTER. – Hulle het uitgewyk uit hul gemeenskap, Avianpark, oor die bendes se koeëls meer reën as druppels uit die hemel.

Dié mense het ’n vuil oop stuk veld gekies waar varke wei en besluit dié diere is baie veiliger bure.

Nou word hul plakkerskamp ’n “plek van lafaards” genoem.

Dis wat die plakkerskamp se Xhosa-naam, Magwaleni, beteken – “Plek van Lafaards”.

Die inwoners het vrede gemaak met die varke en geen basiese dienslewering nie.

Toe Son hulle die afgelope week besoek het, het Magwaleni se mense gesê hulle het in 2016 besluit om te trek oor hulle genoeg gehad het van bendegeweld.

Een na die ander het die shacks hier soos paddastoele opgeskiet.

Oppie plaas: Die inwoners moet maar settle vir so ’n toilet oor Magwaleni nie dienste het nie.

Hulle betaal egter die prys om veiliger hier te voel as in die bendegeteisterde Avianpark.

Hul bure spoeg die naam na hulle en sinspeel daarop dat hulle soos lafaards voor die gangsters gevlug het.

Hopeloosheid staan op baie van die inwoners se gesigte geskryf.

Dis omdat hulle geen water, toilette of elektrisiteit het nie.

Mirriam Petersen (61) het ’n beskeie shack hier.

Petersen sê sy het een oggend vroeg in 2016 haar karige besittings afgelaai van ’n lorrie wat sy gehuur het.

Sy vertel: “Ek is oorspronklik van Rawsonville, maar ek het jare in Avianpark gewoon.

“Ek het in ’n shack as ’n backyarder by my skoondogter gebly.

“Avianpark was eers ’n baie rustige plek, maar toe skielik het die geweld begin.

“Dit was die Sotho-jongens wat eers die JCY-bendelede aangeval het.

oppie vlak: Dié skewe kleinhuisie moet dien omdat daar geen basiese dienslewering in Magwaleni is nie.

Geterroriseer

“En toe raak alles deurmekaar. Ek moes vir my lewe vlug, ek en my vyf kleinkinders, want die JCY’s wou my shack afbrand.”

Nolubabalo Siyolo (32) vertel sy het geen ander keuse gehad as om Avianpark te verlaat nie oor hoe die gangsters hulle geterroriseer het.

Siyolo sê: “Ek was ’n sekerheidswag en die gangsters het geweet ek pay die 25ste.

“Hulle sou tot by my huis kom en geld demand.

“Hulle noem dit protection-geld.

“Wanneer ek sê ek het nie die geld nie, dan slaan hulle my ruite stukkend en hulle vat enige iets van waarde.

“Ek is wel ongelukkig dat ek hier nie basiese dienste kry nie, maar at least voel ek en my vier kinders veiliger as waar ons was.

“Ons gebruik die bucket system vir toilets en ons kinders speel met varke hier, want daar is nie eens ’n plek vir hulle om te speel nie.”

In oënskynlike teenstelling met wat die inwoners van Magwaleni sê, was Avian­park gister rustig by Son se aankoms.

Middel van nêrens: Die Magwaleni-plakkerskamp sien soos ’n vlugtelingkamp daar uit.Foto’s: MELINDA STUURMAN

’n Inwoner, Arti Jansen (61), sê: “Die oorlog hier is tussen die JCY’s en die Corner Boys.

“Dit lyk nou stil, maar die ding kan enige tyd skielik begin ruk.

“Baie mense se huise is heeltemal vernietig. Baie van ons bure het al getrek, want hulle kon dit net nie meer vat nie.

“Die polisie staan net en kyk toe wanneer die laities met hul nonsens begin.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters