Verlede maand
Vroue vies vir ‘sekspes’
steun: Ál drie vroue sê hulle het deurgeloop onder ’n spulse politikus van die BO. Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

WORCESTER. – In ruil vir ’n job moet vroue hier glo afgee.

Drie vroue het Son ge­nader oor hulle genoeg gehad het van die “spulse versoeke” van ’n politieke leier en raadslid van die party Breedevallei Onafhanklik (BO).

Volgens die drie makeer die raadslid hulp oor hy volgens hulle ’n “sekspes met ’n sekssiekte” is.

Die drie klaagsters glo hy misbruik sy posisie om vroue nader te lok. Dit gebeur veral in tye van munisipale verkiesings.

Een van die vroue beweer ook sy het deur hom ’n vaginale infeksie opgedoen.

Bilqees Adams (49), Deidre Samson (42) en Yolande Beyers (38) – almal skuilname – beweer raadslid Colin Wilskut, leier van die party BO in Worcester, het hulle almal “vertrap”.

Samson, die enigste uit die drie wat met Wilskut seks gehad het, sê sy het in 2015 alles in ’n huisbrand verloor.

Wilskut was toe in 2016 vir haar soos ’n ridder op ’n wit perd met allerlei beloftes van ’n job by die munisipaliteit vir haar.

“Ek onthou hoe hy in Junie 2016 my na ’n huis toe gevat het.

“Daar het hy my gesê om seks met hom te hê.

“Ek was so desperaat vir die job en met niks om te verloor nie, en ek het dit toe gedoen vir die job.

“Toe hy klaar met sy job was, toe roep hy die eienaar van die huis en gee my die opdrag om ook met dié man seks te hê.

“Die tweede keer het dieselfde ding gebeur, maar hierdie keer het hy voor ’n gemeenskapsvergadering in Gouda sy bakkie op ’n stuk grond gestop, sy ligte afgeskakel en my gevra om seks agterop sy bakkie onder ’n kappie te hê.

Die vroue wys vinger na Colin Wilskut.Foto:Worcester Standard

“Ons het ’n man op pad opgetel en mnr. Colin het gesê ek moet ook met daai man lê.”

Samson het trane van verleentheid in haar oë hieroor.

“Ek het nooit daaroor gepraat nie. Ek voel skaam, vuil.

“Toe vind ek uit van die ander vroue.”

Adams sê Wilskut het vier keer sy luck getry, maar dit het darem net by ’n gevroetel gebly.

“Tussen 2016 en 2018 het hy my altyd vir werk opgetel.

“Dan sit hy sy hand onder my bums en vat aan my vagina.

“Terwyl hy dit gedoen het, het hy so ’n lekkerkry look op sy gesig gehad.”

Adams het besluit dit is nie die party waarvoor sy verder kan stem nie en het haar onttrek.

Beyers was weer een van Wilskut se voorste campaigners.

Slaap

“Hy het ook sy luck by my getry. En as jy nee sê, dan hou hy dik.”

Beyers sê Wilskut het so aangehou dat hy haar in haar slaap bevoel het.

“Hy het tot by my huis gekom.

“Toe ek iets vreemds voel, het ek vir my kinders geskreeu, want sy hand was onder die komberse.”

Ál drie die vroue het hulle nou onafhanklik verklaar van die BO-party oor die beweerde seksdinge van die raadslid.

Wilskut sê beweringe is komplot

“AS ’N individu het ek die grootste waardering en respek vir vroue en die rol wat hulle in ons gemeenskap, huishoudings en selfs in die BO-party speel.”

Raadslid Colin Wilskut reken sy naam word deur die modder gesleep deur Nizam Ismail, ’n ander raadslid en lid van die BO, wat glo besig is met ’n smear campaign teen hom.

Wilskut het Vrydag op Son se navrae gereageer nadat die beweringe van seksuele wangedrag aan die lig gekom het.

Volgens Wilskut is die beweringe ’n komplot van Ismail, wat tans in ’n dissiplinêre proses by die party gewikkel is.

Wilskut sê Ismail probeer al vanaf 9 Julie om die dissiplinêre klagte teruggetrek te kry.

Intimideer

Ismail sê die klagte teen die raadslid sluit onder andere pligsversuim, ignorering van bestuursbesluite en hangende gewelddadige kriminele sake in.

“Hy probeer alles in sy vermoë om verskeie lede van die bestuur af te pers, lede op te sweep en te intimideer.”

Wilskut beweer ook dat dit deel van Ismail se strategie is.

“Die optrede van rdl. Nizam Ismail is niks anders as ’n poging om die dissiplinêre proses te ontspoor nie.

“Hy het my in geen onduidelike terme laat weet dat hy nie sal skroom om aantygings teen my, of ander lede van die party, te maak nie.

Bemagtig

“Die beweringe, soos uiteengesit, maak dit baie duidelik vir my dat dit ten doel het om my karakter te skend en my doelbewus te diskrediteer, persoonlik, in die gemeenskap, in die raad en ook in my party.

“Dit is my en ons party se beleid en verantwoordelikheid dat vroue bemagtig moet word, en beskou moet word as eweknieë.

“Ek kan dus nie optredes soos in u skrywe teen vroue (as dit wel gebeur het) goedpraat of aanvaar nie.

“As die vroue te na gekom voel, nooi ek hulle saam met Son om klagte by die SA Polisie diens aanhangig te maak of aan die party se bestuur te oorhandig,” sê Wilskut.

  • Ismail sê die beweringe het niks met hom te doen nie.

“Die waarheid kan nie ’n strategie wees nie.

“Hulle kan nog met hulle dissiplinêre proses met my voortgaan, dan kan hy sommer vir sy eie dissiplinêre proses staan.”

Ismail sê die vroue kom nie deur hom nie.

“Ek weet nie hoekom hy nou vir my involve nie.

“Hy speel met tyd sodat hy kan wegkom met sy crimes.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters