13 dae gelede
KYK: Skool steeds in rou
VOLGEPAK: Talle mense het opgedaag vir die roudiens vir Zara Malherbe en Jade Gouws.  ~ Foto Verskaf

TONELE vol emosie het hulle gister by die Hoërskool La Rochelle afgespeel toe ouers, leerders en gemeenskapslede van die Paarl by dié spogskool opgedaag het vir ’n kranslegging en gedenkdiens vir die twee leerders wat hul eie lewe geneem het.

Jade Gouws en Zara Malherbe, albei gr. 11-leerders, is laas week in afsonderlike voorvalle dood.

Jade is Woensdag by haar ouerhuis in Drakenstein dood gevind. Zara is Vrydag in ’n hospitaal dood nadat sy haarself geskiet het.

Die leerders was nie bevriend nie.

Geskok

Son verneem dat Zara onlangs ’n vernederende episode by die skool deurgemaak het toe ’n onderwyser ’n persoonlike brief wat sy geskryf het, hardop gelees het.

Jade het self deur ’n moeilike tyd gegaan, maar dit het niks met die skool te doen gehad nie, sê ’n bron.

Pastoor Etienne van Heerden, herder van die AGS-kerk Paarl, het die roudiens bygewoon.

“Die hele gemeenskap is geskok en in rou. Die skoolsaal was propvol. Dit was ’n emosionele dag. Die onderwysers, leerders en ouers is almal in rou gedompel.”

Van Heerden sê die meisies was albei baie geliefd.

“Van wat die onderwysers en leerders van albei sê, kan mens hoor hulle was kinders wat goed presteer het en dat hulle albei baie begaaf was.”

Inwoners van die omliggende gebied het blomme en briefies by die skool se ingang en heining neergesit.

Karin Leibbrandt, die bemarkingsbestuurder van die skool, sê die skool se fokus is nou op die leerders en hul ouers.

“Ons was heeloggend besig met die roudiens en beradingsessies.”

Kerry Mauch­line, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, sê die omstandighede rondom Zara en Jade se dood word nog ondersoek.

“Ons moet nou die privaatheid van die leerders se familie en vriende respekteer en hulle tyd gun om te rou,” sê Mauchline.

Bekommerde ouers het by die skool gewag om hul kinders ná skool op te tel.

Een van die ma’s sê die naweek was ’n moeilike een.

“Ons is ’n baie nou gesin wat maar die laaste tyd baie inhuisig is. Die naweek het ek gekloek om my kind.”

Nog ’n vrou sê haar dogter is vanjaar in matriek.

“Dit is klaar so ’n moeilike jaar vir hulle. My dogter het saam met Jade hokkie gespeel, so, hulle ken mekaar. Dit was baie emosioneel vir haar. Ek het haar nie uit my oog gelaat nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters