22 dae gelede
KYK: Sakeman van puik stoffasie

’N GESTREMDE man van Wellington kort hulp met sy klein upholstery-besigheid.

Poliomiëlitis (of kortweg polio) is op tweejarige ouderdom by Rudolf Samuelse (49) gediagnoseer.

Hy kry dus van kleintyd af ’n toelae.

Met dié einste ongeskiktheidstoelae het hy destyds sy besigheid begin en dit stadigaan uitgebrei.

Samuelse het ervaring opgedoen deur by upholstery-besighede uit te help.

Daarna het hy die sentjies wat hy verdien het, gebruik om al die masjiene aan te koop waarmee hy moet werk.

Samuelse het ’n groot begeerte om die gemeenskap te help deur werk te skep vir die werkloses rondom hom.

Op die oomblik het hy twee werkers wat hy van die straat af ingeneem en opgelei het om vir hom te werk.

Volgens Samuelse hy het oral in die Wellington-area klante.

Dis ’n goeie ding, maar skep ook ’n probleem: Die ruimte op sy erf is te klein vir al die besigheid wat hy inkry.

Op koue, reënerige dae soos gister lek dit boonop ’n bietjie by sy plek in.

Hy meen dit jaag soms klante weg wanneer hulle sien daar is nie plek vir hulle goed om te staan nie.

“Die spasie is baie beknop, veral wanneer dit reën.”

Samuelse smag na ’n groter plek sodat hy die werk van die klante veilig kan bewaar en sodat die gemeenskap die werk kan sien wat hy doen.

Samuelse wil ook laities wat ná matriek ledig is, touwys maak in die upholstery-bedryf. Hy sukkel net om befondsing te kry.

Hy het al by ander en die munisipaliteit aangeklop, maar was elke keer onsuksesvol. Iemand anders het na bewering sy idee gesteel.

Tog het Samuelse ’n baie positiewe uitkyk op die lewe.

Hy laat nie toe dat sy gebrek hom onderkry nie.

“My ongeskiktheid is my grootste uitdaging.”

Volgens Samuelse is dit ongelooflik om mense te wys jy kan bo jou omstandighede uitstyg.

Die stoffeerder sê ook hy lewer niks anders as kwaliteitwerk nie.

  • As enige een wil uitreik na Samuelse, kan hulle hom kontak by 073 803 5812.

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters