2 maande gelede
KYK: Oompie spin nuwe storie
Krap-krap: David Cupido se hand is so half oor sy gesig terwyl hy 4th Power se sake bespreek.  ~ 

OOMPIE is nog lank nie bankrot nie.

As ’n mens David Cupido se grootpratery gister voor die Kaapse hooggeregshof kan glo, het hy nog miljoene.

Cupido, die baasbrein agter 4th Power Investments, het gister belowe hy sál sy sowat 14 000 beleggers nog betaal.

Dít ná drie jaar se leë promises.

Cupido het Son gister te woord gestaan toe hy vir ’n likwidasiebevel hof geloop het.

Gisteroggend vroeg het hy eers hierteen kapsie gemaak.

Hy is reeds op 29 Mei in kennis gestel dat Deo Labiri (Edms.) Bpk. aansoek gedoen het om likwidasie.

Die hof het Cupido tot 13 November kans gegee om te sê hoekom hy nie bankrot­ verklaar moet word nie.

Cupido het aan Son bevestig hy het wel nog miljoene oor en dat dit veilig in ’n sekere bank gehou word. Hy het geweier om die bank se naam bekend te maak.

Cupido het gesê: “Die beleggers hoef nie bekommerd te wees nie. Daar is lig.

“Die likwidasie-aansoek van Deo Labiri was eintlik vir ons ’n blessing in dis­guise.

“Dit het ons uitgebring. Dit het gemaak dat ons sekere goed met spoed kan hanteer.

“Nie vir my spesifiek nie, maar vir die mense wat met my goed werk.

“Nou kan hulle die gevolg van die lang wag sien. Daar is lig in die tonnel.”

Son het destyds berig die geld is volgens Cupido se beleggers by The Dominion Bank in Kanada inbetaal.

Gister het hy erken die geld is nooit oorbetaal nie.

Hieroor het hy gesê: “Julle weet in daardie stadium is ek verhoed om bankreke­ninge te hê. Die geld sou by die Dominion-bank inbetaal word en hulle deure was oop vir ons.

“Weens komplikasies het ons ons heeltemal onttrek.”

Verder het Cupido gesê hy dink nie die betrokke Valke was die regte voëls nie. Hy dink ook nie dit is reg dat die Valke tot by ’n mens se huis kom om ’n ondersoek te loods nie.

Hy het gesê hy glo ook nie die Valke het by sy huis toegeslaan nie; hy dink hulle is gestuur.

Cupido het verduidelik: “Met al my respek vir hierdie gesag, dit is die eerste keer dat ek sien hulle operate só.

“Hulle kom en konfiskeer sekere items.

“Dan sê hulle hulle kom oor twee weke terug vir ’n arrestasie. ’n Arrestasie is nog nooit gedoen nie.

“Die mense was óf haastig óf daar is ander forces betrokke. Ek sê nie die Valke was nie regte Valke in terme van hulle badges nie, maar hulle was nie Valke nie.”

Ryan Hall, Cupido se prokureur, het bevestig hy het gisteroggend vroeg ’n ongetekende kennisgewing ontvang dat die likwidasie teengestaan moet word.

Voortgaan

Hall het gesê hy kan nie bevestig of die likwidasie­bevel toegestaan is nie.

“Omdat die saak sonder enige teenkanting sou voortgaan, was geen vertoë nodig om vir die saak voor te berei nie.”

Hall het ook gesê enige kapsie wat in so ’n laat stadium gemaak word, kom eintlik maar neer op ’n taktiek om die aansoek te vertraag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters