Verlede maand
KYK: Lyke van 3 vroue ruk dorp
TANTE: René Cloete (38) is nog in skok en ongeloof oor wat gebeur het.  ~ Jonathan Lestrade

WOLSELEY. – Dié stil plattelandse dorpie is tot in sy fondamente geskok nadat drie vroue se lyke hierdie naweek ontdek is.

Bernadine Frans (21) se lyk is Saterdagaand in die plakkerskamp Pine Valley ontdek.

Sondag is die ontbinde lyke van twee onbekende vroue in twee vlak grafte op ’n oop stuk veld gekry.

Cops het intussen ’n 33- jarige verdagte gearresteer nadat buurtwaglede Saterdagaand die cops ingelig het dat Frans se lyk buite die verdagte se huis lê.

Hy was glo van plan om haar lyk te gaan begrawe. ’n Graaf is ook op die toneel gevind.

Die stories loop dat die verdagte Frans in sy karavaan aangerand en vermoor het. Bitter ontstelde inwoners het Sondagaand opgeruk en dié caravan van onheil afgebrand.
Skoktyding

Volgens inwoners wat in die plakkerskamp woon, het die verdagte jong meisies met drugs en geld na sy woonplek gelok.

Volgens Frans se hartseer mammie, Kristien Martinus (37), was sy in Porterville toe sy Sondagoggend die skoktyding van haar dogter se dood kry.

Die ma sê: “Woorde kan nie my seer beskryf nie.

“Die manier waarop ek haar verloor het, maak dit nog seerder.

“Sy het nie in die huis gebly nie en ek het baie gepraat oor haar verkeerde dinge.

“Sy en haar vriende het baie daar by die verdagte se huis geloop.

“Ek het altyd vir haar gegee as sy by die huis kom en kos kom soek.”

Volgens haar stiefpa, Liaan Martinus (36), was Bernadine nog Saterdag by die huis terwyl haar ma in Porterville was.

Liaan sê: “Dis tragies. Ons het altyd met haar gepraat, maar dan sê sy ons moenie oor haar worry nie.

“Ek het vir haar geld gegee en gesê sy moet dit nie weer gaan uitrook nie.

“Dit was die laaste wat ek haar gesien het.”

Bernadine se tante René Cloete (38) het haar as ’n lieflike, stil mens beskryf.

Steven Zallie, ’n gemeenskapswerker, sê: “Die gemeenskap is stukkend. Ons is nie gewoond aan sulke wreedheid hier nie. Hier is dit nog van jou kind is my kind. Ons gee om vir mekaar.

“Dit was nie lekker om te sien hoe die lyke uit die vlak grafte gegrawe word nie.”

Inwoners vrees dat die twee onbekende ontbinde lyke moontlik dié van twee vroue in die area is wat vermis word.

Een vrou is reeds meer as ’n maand missing en die ander­ reeds twee weke.

Die polisie en die burgemeester van die Witzenberg-streek, Benito Claassen, het gister die moordtoneel besoek.
Verkrag

Sophia Thomas (44), ’n inwoner, sê: “My pleidooi is vir law enforcement om die onwettige hokkies af te breek.

“Hulle slaan in die nag die hokke op. Die crime het toegeneem met die hokke wat hier is.”

Elsie Bles (64) sê: “Ons jong kinders word vermoor en verkrag. Jy moet te bang wees om in die aande buite te loop.

“ ’n Paar maande terug is ’n ou vrou ook wreed vermoor en verkrag.”

Mina Segrys (61) sê: “Die munisipaliteit moet help om die bosse af te kap.

“Die buurtwag help, maar kan mos nie als doen nie.”

Inwoners beoog om môre buite die hof in Wolseley te betoog wanneer die verdagte in die hof verskyn.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, bevestig die eerste lyk is Saterdagaand ontdek.

Die ander twee is Sondag ontdek nadat ’n inwoner op ’n vlak graf in ’n oop stuk veld afgekom het.

Potelwa sê: “Gemeenskapslede het die polisie ingelig en dit het tot die ontdekking van die lyke gelei.
Forensiese

Volgens Potelwa is die ontbinde lyk van ’n onbekende vrou eerste opgegrawe.

“Verdere ondersoek het tot die ontdekking van nog ’n vlak graf gelei nie ver van die ander een nie.

“Nog ’n lyk van ’n onbekende vrou is ontdek.”

Potelwa sê die polisie se forensiese span, asook die K9-eenheid het die terrein ure lank vir leidrade gefynkam.

Die omstandighede rondom die moorde is nog onbekend.

Outopsies moet nog uitgevoer word om die oorsaak van dood vas te stel.

Enige persone met inligting oor die voorvalle of wat kan help om die lyke te identifiseer, kan ene speursers. Pietersen bel by 077 989 40195.



Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters