Verlede jaar
Korrupte cops sal 'vasval'
vreesloos: Die adjunk-polisieminister, Bongani Mkongi, praat gister by ’n imbizo in Grabouw.  ~ 

DIE adjunk-minister van polisie, Bongani Mkongi, het gister belowe om “lunatics”, sowel as misdadigers en korrupte cops, agter tralies te smyt.

Mkongi het honderde mense by ’n imbizo in Grabouw toegespreek.

Inwoners en misdaadvoorkomingsorganisasies van oral in die Overberg is ook op dié openbare vergadering verteenwoordig.

Mkongi het vroeër rolspelers in Hermanus toegespreek waar hy hulle verseker het kriminele se dae is getel.

Inwoners het onder meer Mkongi ingelig oor polisiestasies soos Kleinmond en Hermanus wat soms net twee polisiebeamptes per skof aan diens het.

Florence Ludyayi van Grabouw sê die polisiediens in dié dorp bestaan nie.

Sy sê: “Ek het ’n saak by die polisiestasie gaan aanmeld rakende die verkragting van en moord op my dogter. Die polisieman wat my statement gevat het, het nie eens vir my ’n saaknommer gegee nie.”

Mkongi reageer: “Die dame wat kla dat sy ’n saak by die polisiestasie gaan maak en nie eens ’n saaknommer gekry het nie, moet ons wys wie dié polisie­man is.

“Ons duld nie sulke houdings in die polisiediens nie.”

Hy het vroeër in Hermanus gesê: “Ons gaan ontslae raak van al die polisiebeamptes wat dink hulle is untouchable.

“Die enigste manier hoe hulle ons kan keer, is om ons te assassinate.”

’n Inwoner van Genadendal, Benny Beukman, moan oor smokkelhuise en “vrot” polisiebeamptes in die dorp.

Beukman sê: “Daar is ’n klomp vrot appels in die polisie. Hoe kan dit misdaadbekamping in Genadendal help?

“Raak ontslae van die vrot appels. As die politicians nie nou na ons wil luister nie, gaan ons met ons stemme in 2019 in die stemlokale praat.”

Mabathini Khonani sê: “Ons is besig om te vergaan in hierdie dorp. Grabouw is ’n slagveld.”

Sommige inwoners kla daar is geen vertroulikheid in die polisiediens nie. Daarom vertrou hulle eenvoudig nie die polisie met sensitiewe inligting nie.

Handjievol

Mkongi sê: “Die kwessie van vertroulikheid spruit uit ’n algemene korrupsieprobleem.

“Ons moet hierdie korrupte beamptes van die SAPD uitroei, want hulle gee die polisiediens ’n slegte naam en hulle is net ’n handjievol.

“Ons is hier omdat misdaadsyfers styg. Ons is hier, want mense word deur lunatics aangeval. Ons is hier om te mobiliseer teen misdaad, want as jy nie teen misdaad mobiliseer nie gaan jy nooit wen nie.”

soek samewerking: Isaac Claassen van Hawston sê inwoners moet ophou afbreek, afbrand en plunder.
propvol: Honderde mense gister by die Laerskool Kathleen Murray in Grabouw.
ontevrede: Benny Beukman van Genadendal kla gister by die imbizo in Grabouw oor die vrot polisie.
gee aandag: Bongani Mkongi en die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato (links).
geen belangstelling: Florence Ludyayi kla gister oor die polisie in Grabouw se erg slordige diens.

’n Inwoner van Hawston, Isaac Claassen, sê hy kan nie verstaan hoekom mense in sy dorp onlangs betoog het nie, want daar is reeds ’n development pro­gramme in sy dorp.

“Ek dink hulle het geprotesteer net sodat hulle die winkels kon plunder,” sê hy.

Mkongi sê: “As jy water of krag of huise soek, hoekom brand jy geboue af? Dit maak nie sin nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters