15 dae gelede
Koebaai, R44!
gelukkig: Alfred May en ’n kuiergas, Breyton Markus, maak hulle warm by die vuur. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

UITEINDELIK!

Ná maande langs die pad, oorgelaat aan die elemente van die natuur, is daar ’n uitkoms vir die May-familie.

Dié gesin is vroeër vanjaar met ’n hofbevel van Windmeul Kelder afgesit.

Maar Alfred en Sweetness May het vandeesweek begin trek na hul eie plekkie. Woensdag was hulle heel laaste dag langs die R44-pad. Dit kom ná vele onderhandelinge tussen Windmeul Kelder, die Drakenstein Munisipaliteit en die gesin May.

Die familie is in Maart 2019 uit hulle huis op die wynlandgoed gesit, waar hulle 28 jaar gewoon het.

Sedertdien het die gesin langs die R44-pad gebly.

Die familie het geweier om die Drakenstein Munisipaliteit se alternatiewe huisvesting in New Orleans Park te aanvaar.

Sweetness het in Mei aan Son gesê sy weier om daar te bly omdat daar te veel “dinge” aangaan. Sy het ook gesê haar gesin gaan nie veilig daar wees nie.

Op 9 Julie het die drie partye ’n vier uur lange vergadering gehad, waar ’n ooreenkoms bereik is.

Windmeul Kelder het ooreengekom om die gesin te help met ’n blyplek.

Tevrede

Die gesin May sowel as Windmeul Kelder se eienaars was gelukkig met die afloop van die vergadering.

Dinsdag toe Son die gesin langs die R44-pad gaan besoek het, was Sweet­ness nie daar nie. Sy was toe reeds besig om huisraad aan te dra na hulle nuwe blyplek toe. Baie van hulle meubels wat daar gestaan het, is ook al weg.

Alfred May het aan Son gesê hy is tevrede met wat ooreengekom is.

“Ek is bly Windmeul Kelder het gehelp,” sê hy.

Windmeul Kelder se eienaars het in ’n verklaring gesê dat hulle ook tevrede is met die ooreenkoms en dat hulle ’n soortgelyke boodskap aan ander boere sal oordra.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters