22 dae gelede
Klub-man in hof
KWAAD: Inwoners is omtrent omgekrap omdat hulle nie in die hof toegelaat is nie.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Onder swaar polisie-begeleiding is ’n bekende sakeman van die dorp hof toe geneem.

Maandag was daar groot drama by die hof toe lede van die publiek nie in die gebou toegelaat is nie.

Son is wel toegelaat om na die saak te luister.

’n Sakeman, Henry Smidt (54), het op aanklag van moord in die plaaslike landdroshof verskyn.

Special

Talle inwoners was baie moerig toe hulle nie na die hofsaak kon gaan luister nie.

Van die ontevredenes buite die hof meen die sakeman kry special treatment.

Die sakeman is daarvan aangekla dat hy Lionel “Boemie” Pietersen (44), ’n bekende druglord, Sondag omstreeks 01:45 by die ingang van sy nagklub geskiet het.

Volgens kapt. Marchel Klaasten, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie ’n klag ontvang van ’n skietery by die nagklub.

By die polisie se aankoms het Pietersen in ’n plas bloed by die ingang van die klub gelê.

Klaasten sê paramedics het Pietersen op die toneel dood verklaar.

Volgens Klaasten het Pietersen na bewering kort voor die voorval met die eienaar se seun skoorgesoek.

Die seun het Pietersen toe gevra om van die perseel pad te gee.

Klaasten sê Pietersen het die seun gedreig en hulle het toe handgemeen geraak. Die seun het daarna sy pa gaan roep.

Volgens Klaasten het die eienaar Pietersen ook baie mooi gevra om te loop.

Klaasten sê Pietersen en sy kamerade wou toe die klub binnestorm en die sekuriteitspersoneel moes hulle keer.

Volgens Klaasten het die eienaar sy wapen gaan haal en weer vir Pietersen gevra om pad te gee.

Pietersen en van sy tjommies het na bewering op die eienaar afgestorm en met hom begin baklei.

’n Skoot het afgegaan en Pietersen is in die sy getref.

Hy het inmekaar geval en nog geleef.

Mense op die toneel het hom probeer help, maar hy het kort daarna gesterf.

Gister het ’n niggie van Pietersen, Danielle Signieur, aan Son gesê sy was by toe Pietersen geskiet is.

“Hy het sy gun uitgepluk en nie eens ’n waarskuwingskoot afgevuur nie,” sê sy.

Volgens haar moes Smidt ook nie borgtog gekry het nie.

Familielede van Pietersen was vies en het in die hof hande opgesteek om hulle sê te sê.

’n Cop moes hulle tot orde roep.

Borgtog van R7 000 is aan Smidt toegestaan.

Hy is gewaarsku om op 10 April weer in die hof te verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters