23 dae gelede
‘Kinders gaan na ’n slagveld’
Span saam: Die Primêre Skool Magnolia is een van die 21 skole wat deur die gesamentlike beheerliggaam verteenwoordig word.  ~ 

WIE vat verantwoordelikheid as ’n kind aan Covid-19 sterf terwyl hulle op skool is?

Na wie sal die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) vinger wys as hierdie tipe nalatigheid voorkom?

Dít is van die vrae wat die voorsitters van 21 skoolbeheerliggame in circuit 3, Wellington en Paarl, aan die WKOD stel in ’n gesamentlike brief wat hulle Saterdag aan die departement gerig het.

Dis die tweede so ’n brief wat aan die WKOD gestuur is.

Laas week het die beheerliggame van skole in Wellington ook ’n brief aan die departement gestuur.

Die tweede brief is ’n gesamentlike een deur voorsitters wat skole in die Paarl en Wellington insluit.

In die brief erken hulle dat beheerliggame nie die reg het om ’n skool te sluit nie. Hulle sê dít is nie in dispuut nie, maar hulle vra die WKOD om sy besluit te heroorweeg.

Die beheerliggame versoek ook dat skole gesluit gehou word totdat die land na lockdown vlak 1 beweeg.

Hulle vra dat ’n alternatiewe metode gevind­ word om leerders te onderrig.

Henry Clayton, voorsitter van die gesamentlike skoolbeheerliggaam, sê: “Die WKOD stuur kinders na ’n slagveld toe, want nie al die skole het al hul PPE ontvang nie.

“Die beheerliggame is nie oor die hele ding geconsult nie en nou mag die beheerliggame nie by die skole kom nie.

“Van die onderwysers is ook gegrief. Hulle voel skole moet gesluit bly, maar hulle kry instruksies van die departement en hulle kry ’n salaris. Dit beteken hulle moet by die skool wees, tensy hulle af siek is of verlof vat.

“In die brief sê ons alternatiewe soos distance learning moet oorweeg word, of dat opvoeders ’n pakkie met skoolwerk opmaak wat leerders tuis kan doen.

Nagekom

“Ons kan nie toelaat dat onderwysers en leerders blootgestel word en sterf nie.”

Clayton sê hy stuur nie sy kleinkind skool toe nie omdat niemand monitor of die regulasies nagekom word nie. “Die kind kan eerder ’n jaar se werk verloor as sy lewe. Ek gaan hom nie in ’n slagveld instuur en wonder wat hy doen en of die protokolle gevolg word nie.”

Clayton sê as hulle nie terugvoer op die brief kry nie, sal hulle g’n ander keuse hê as om skole te mobiliseer nie en die Congress of South African Students te nader.

“As ons dié roete moet volg, sal ons.”

Vanessa le Roux, stigter van Parents Against the Opening of Schools, sê hulle is ook besig om die wettige roete te volg.

“Ons hou konsultasies met gemeenskappe en beheerliggame en ons kry die professionele mense en kundiges aan boord om inligting met ouers te deel om ingeligte besluite te neem.”

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, sê die departementshoof het verlede week op die brief geantwoord.

“Die briewe herinner hulle daaraan dat dit buite die mandaat en funksie van ’n beheerliggaam val om ’n skool te sluit.

“Hierdie gesag lê by die departementshoof.

Sorg

Hammond sê Artikel 20 (1) (a) van die South African Schools Act bepaal dat ’n beheerliggaam van ’n openbare skool “die beste belang van die skool moet bevorder en daarna moet streef om die ontwikkeling daarvan te verseker deur die verskaffing van gehalte-onderwys vir alle leerders van die skool.

Sy voeg by die WKOD sal sy mandaat uitvoer om altyd alle leerders in sy sorg te beskerm.

Sy herinner alle ouers ook daaraan dat hulle ’n reg en ’n verantwoordelikheid het om hulle kinders skool toe te stuur sodat hulle ’n opvoeding kan kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters