16 dae gelede
Kind se begrafnis 'n fiasko
VERGEEFS: Die begrafnisgangers moes by die skoolsaal omdraai, want daar was reeds ’n gejubel en gejuig van ander kerkgangers binne-in die saal aan die gang.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Die driejarige kleuter wat na bewering deur haar ma en stiefpa doodgeslaan is, is dié naweek begrawe.

Daar was groot teleurstelling toe die kind nie begrawe kon word uit die skoolsaal, wat die familie reeds ’n week vooraf bespreek het nie.

’n Pastoor en sy gemeente was toe in dieselfde tydgleuf daar besig om kliphard juiggesange te sing en hande te klap terwyl die stoet na die saal beweeg het.

Volgens die familie was die pastoor en sy gemeente maar bra min gespin. Hulle het houtgerus aangehou met hul diens.

Die begrafnisgangers moes toe verneem dat die pastoor se diens nog vir twee ure gaan aanhou.

Die stoet het toe na die begraafplaas beweeg, waar daar toe ’n kort diens gehou en die pragtige wit kissie toe in die graf laat sak is.

Die arme tenger meisietjie is sowat twee weke gelede in die gesin se sinkhokkie dood aangetref.

Die uitslae van ’n forensiese patologie-ondersoek het aangedui die kind is met ’n stomp voorwerp geslaan.

’n Begrafnisondernemer het aan Son gesê toe hy die kind se lykie by die patoloë gaan afhaal, kon hy die blou merke aan die kind se ribbes duidelik opmerk.

Betoog

Daai kind is wreed doodgemaak,” het die ondernemer laat hoor.

Die ma en stiefpa sal weer Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn vir ’n formele borgtogaansoek.

Inwoners het by hul vorige hofverskyning voor die hof betoog. Hulle dring daarop aan dat borgtog nie aan die twee verdagtes toe­gestaan moet word nie.

TRANE: Talle het hul laaste goodbyes kom sê aan die kleintjie wat na bewering deur haar ma en stiefpa doodgeslaan is. Foto: Basil Davids

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters