Verlede maand
‘Killers’ nou vry
ontevrede: Hermanus Ehrenreich dink die vermeende killers verdien om gestraf te word.Foto: Jonathan Lestrade  ~ 

’N PAARLSE familie sit met ’n bitter smaak in hulle mond nadat hulle vermoorde geliefde se vermeende killers vrygespreek is weens ’n gebrek aan getuies.

Vyf vermeende lede van die 26’s is laas Donderdag in die Paarlse streekhof losgelaat. Die manne is in November 2017 toegesluit vir die moord op Gerald September (50).

September se oom, Hermanus Ehrenreich (68), het gister met Son gepraat oor hoe die saak op niks uitgeloop het nie. Hy sê September was ’n 28-bendelid.

Omsingel

“Hy het ’n besigheid gerun waarmee die 26’s nie happy was nie. Toe kom hulle vir hom.”

September is op 14 November 2017 omsingel en met onder meer messe en ’n byl aangerand.

Gerald SeptemberFOTO Verskaf

“Daar waar hy geval het, het hulle op sy kop gejump.”

Nagenoeg 20 mans was betrokke, meen Ehrenreich.

Die saak het langer as twee jaar geloop, maar die ooggetuies het nooit by die hof opgedaag nie. Van die getuies is glo gedreig.

“Ek kan nie verstaan dat daar nooit lasbriewe uitgereik is om die getuies in die hof te kry nie.”

Ehrenreich sê hy voel die gereg het hulle gefaal.

“Dis asof die staatsaanklaer petrol gegooi het en die landdros die brand aangesteek het, want die Paarl brand al klaar weer noudat die jongens uit is.”

Die gewese beskuldigdes is glo nie eerste oortreders nie.

Eric Ntabazalila van die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy kan nog nie kommentaar lewer of redes verskaf hoekom die saak van die rol geskrap is nie.

“Ongelukkig het ons nog nie tyd gehad om te konsulteer nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters