3 maande gelede
Kieser (114) ‘is bevoorreg’
spesiaal: Oom Tengeni Mamshiyana (114) en vroulief Willemiena (83) het saam gaan stem. Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – Op die ouderdom van 114 jaar het oom Tengeni Mamshi­yana sy kruisie gister trots gaan trek.

Mamshiyana het so ’n bietjie laat geslaap, maar toe sy kleinkind baie mooi gevra om hom na die saal te vat om te vote.

Mamshiyana sê: “Ek is bevoorreg dat ek op dié ouderdom nog kan stem vir die party van my keuse.

“Toe ons nog in die apartheidsjare geleef het, kon my ouers mos nie hulle stem uitbring nie.”

Hy onthou 25 jaar gelede toe hy die heel eerste keer kon stem.

“In daai jare was ons baie bly dat ons toe ook in ’n demokratiese land kan bly,” sê Mamshiyana trots.

Hy sê hy is tevrede met hoe sy party hom deur die jare behandel het.

Mamshiyana hoop dat die land in die regte rigting gestuur gaan word.

Volgens hom moet korrupsie hokgeslaan word. Hy meen vir die jong mense moet onderrig pasella wees.

Sy vrou, Willemiena (83), sê haar man is ’n rolmodel en sy is bly oor die voorreg wat hulle het om saam-saam hulle kruisies te trek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Kommentaar is gesluit vir hierdie artikel