11 dae gelede
Kids swem selfs ná waarskuwings
SORGELOOS: Kinders speel in die Breërivier asof daar geen krisis in die land heers nie.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Skoliere is bitter upset oor die dorp se swembad sy hekke toegemaak het.

Gister moes baie kinders voor die swembad se hek omdraai oor dit weens die corona-virus toegemaak het.

’n Opsigter het aan die klompie kinders verduidelik waarom die swembad tydelik gesluit gaan wees.

’n Kennisgewingbord dui duidelik aan dat die swembad weens die corona-virus gesluit is.

Van die kinders het toe nie op hulle laat wag nie en in drukkende hitte in die pad geval en na die Breë­rivier gegaan.

Hier het die jongspan lafenis gaan soek in temperature wat gister by 34º C gedraai het.

Beloof

Die kids sê hulle gaan nou in die vakansietyd elke dag in die rivier swem.

“Ons is gewaarsku teen die gevaarlike siekte en ons sal so min as moontlik in groepe beweeg en nie onnodig hoes nie,” het die kinders mooi beloof.

Hulle hoop dat die dorp se swembad weer binnekort sal oopmaak.

Son het ’n navraag na die Langeberg Munisipaliteit gestuur oor die swembad.

In antwoord hierop is uitgewys dat dit een van die riglyne is wat deur pres. Cyril Ramaphosa vir munisipaliteite neergelê is.

Die verklaring lees voorts dat alle munisipale swembaddens van 18 Maart gesluit sal wees tot nader kennisgewing.

In die verklaring word verder benadruk dat die munisipaliteit alle riglyne stiptelik sal volg wat die Wêreldgesondheidsorganisasie onder die huidige omstandighede vasgestel het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters