Verlede maand
Kids se afskeid flop, ouers sien rooi
skoolmanne: Hubert Lesch, skoolhoof, en Steven “Lange” Joachims moet verantwoordelikheid neem vir wat gebeur het, meen die upset ouers. Foto’s: Kallie Smit  ~ 

SARON. – Terwyl die personeel van die laerskool verlede Donderdag watertand-geregte by twee posh eetplekke in die Strand geniet het, het die “mini-matriekafskeid” steeds ’n naar kol op die maag van ouers en leerders gelaat.

Ouers moes R700 opdok vir die gr. 7-leerders se afskeid wat op 4 Desember in die plaaslike gemeenskapsaal gehou is. Die koste was R250 meer as laas jaar.

Van die ouers wonder nou of die drastiese styging in koste aangebring is om die onnies se uitstappie vir hulle afskeid te finansier.

Bridgette Loff (34) vertel: “Kerrie en rys is as voorgereg bedien en hoewel dit die leerders se aand was, is die onderwysers eerste bedien.

Hoofgereg

“Daar was toe nie rys vir die kinders oor nie. Die kerrie was ook te min vir almal.

“Die hoofgereg, waar 10 mense per tafel hulself uit een platter moes bedien, se hoender en tong was af.

“Toe ons kla, sê die hoof dat hy niks daaraan kan doen nie. Daar was nie genoeg kos en vurke vir almal nie. Die taai peanuts en goedkoop snacks was ook te min.

“Van die ouers en die meeste van die kinders het nie geëet nie. ’n Vrou het siek geraak van die kos.”

Die ouers met wie Son gepraat het, sê hulle hou die laerskool se hoof, Hubert Lesch, en die voorsitter van die beheerliggaam, Steven “Lange” Joachims, verantwoordelik vir die gemors.

Hulle weier ook glo om die ouers se geld of ’n deel daarvan terug te gee.

Lesch sê: “Ons sal Vrydag ’n vergadering met die ouers wat kom kla het, belê en saam met die beheerliggaam ’n oplossing probeer vind.”

Joachims sê daar is Vrydag besluit om te kyk of hulle nie volgende jaar ietsie vir die kinders kan reël nie.

’n Ontstoke ouer sê: “Volgende jaar is die kinders nie meer by die skool nie en dan is als vergete.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters