Verlede maand
Kid uit koma na kopskoot
net daar ... Jaiross Banda wys waar die bullet sy dogter in die kop getref het.  ~ 

NIE eens ’n bullet in haar brein kon haar onder­kry nie.

Klein Rubenicia Joko (6) van Avian Park in Worcester is ’n vegtertjie wat ’n koeël in die kop oorleef het.

Rubenicia was in ’n koma nadat ’n dwaalkoeël van vegtende bendelede haar laas maand getref het.

Die bullet is nou verwyder en gister is sy ge­opereer sodat sy op haar eie kan asemhaal.

By Son se besoek gister aan Rubenicia was sy aan verskeie pype gekoppel.

Haar pikswart haartjies is afgesny en operasiewonde met steke in haar kop was duidelik sigbaar.

Hoewel sy wakker is, kan sy nog nie praat nie.

Rubenicia se ouers, Eltheresa Joko en Jaiross Banda, is van dag 1 af al langs haar bed in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad.

Joko het aan Son vertel sy het die Uitbuiters en JCY’s dopgehou terwyl hulle daai dag op mekaar geskiet het.

Dit was enkele­ ure voordat Rubenicia getref is.

Klein Rubenicia was toe nog in die skool. So, Joko het nooit gedink haar dogter­tjie sal later self ’n slagoffer wees van dié gangsters se selfsugtige gewelddadigheid nie.

Joko vertel: “Dit was so 14:00 toe my ander klein meisiekind bebloed by die huis aan­gehardloop gekom het.

“Sy’t geskreeu: ‘Niesie is geskiet!’

“Ek het gevra: ‘Hoe!? Waar!?’ Sy’t gesê hulle was in die skoolbakkie toe dit gebeur het.

“Ek was kaalvoet en het net so uit die huis gehardloop. Toe ek op die toneel kom, is sy reeds hospitaal toe gevat.

“Die polisie het my ’n lift hospitaal toe gegee. Toe ek daar kom, besef ek sy kan net haar voete en armpies beweeg, verder was sy doodstil.”

Joko sê nadat Rubenicia gestabiliseer is, is sy met ’n helikopter na die Rooi Kruis-kinderhospitaal oorgeplaas.

Sy sê dís waar die artse ’n stryd gevoer het om die sesjarige aan die lewe te hou.

Sy vertel: “Een dokter het gesê hulle sal kyk wat hulle vir haar kan doen, maar kon in daardie stadium niks be­lowe nie.

“Die ander dokter het weer gesê oor sy nog klein is, sal die stukkie brein wat getref is, weer groei soos sy ouer word.”

Banda het in trane uitgebars toe hy vertel het oor hoe sy dogter vorder.

Hy brêgh: “Ons het aanhou bid. Dit was net gebed wat haar deurgedra het tot waar sy nou is.

“Die dokter het vir ons gesê dat ons gelukkig is dat sy nog lewe, want min mense­ oorleef ’n kopskoot.”

Joko en Banda sê hulle glo hulle dogter sal herstel.

Hulle kan nie wag om haar weer terug huis toe te vat nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters