Verlede maand
Kabelstelers shed hul load
KRAG AF: Die gesin Vermeulen het gedog Eskom pik onnodig op Ashton se mense.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Inwoners van dié Bolandse dorpie het Vrydagoggend wakker geskrik en gedog daar is weer load shedding toe die hele dorp en omliggende plase se krag af was.

Maar ná twee uur het hulle gedog Eskom pik nou on­nodig op hulle toe die krag nie aankom nie.

Min het hulle geweet dat booswigte hope kabels gestroop het.

Andries Vermeulen, ’n inwoner, vertel hy was al Vrydag 04:00 uit die kooi en wou die lig aansit om gereed te maak, maar vergeefs.

Vermeulen vertel hy het toe nog aan sy gesin gesê dis weer load shedding wat ’n draai kom gooi het.

Vermeulen sê toe hy ongeveer 05:00 werk toe stap, was die hele dorp nog pikdonker.

Hy vertel: “Ek het toe by kerslig op die skedule by die werk gaan kyk en toe ontdek die krag was nie veronderstel om weens load shedding af te wees nie.”

’n Ander inwoner, Salie Marais, sê toe die krag teen 10:00 nog nie aangeskakel is nie, het hy sommer geweet iets is nie pluis nie.

“Eskom se load­ shedding duur op die meeste ongeveer twee tot drie uur,” het Marais bygevoeg.

Volgens hom was baie inwoners woedend. Hulle is eers later deur munisipale personeel in kennis gestel van die elektriese kabels wat vroeër die nag gestroop is.

Van die inwoners sê die diewe is nogal slim­koppe.

Hulle meen die booswigte het die mense laat dink dis load shedding toe die hele dorp se krag afslaan, en hulle het ook hulle beplanning baie goed gedoen.

Teen Vrydagmiddag laat was die meeste van die kabels herstel en die inwoners kon met hulle daaglikse take voortgaan en hulle yskaste check of die goed daarin darem koud begin word.

Die polisie ondersoek ’n saak van kabeldiefstal. Niemand is tot dusver gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters