11 dae gelede
Jongman steek glo bejaarde man dood
'n Bejaarde man is verskeie kere met 'n mes gesteek.  ~ Foto ter illustrasie: Son

DIE wrede moord van ’n bejaarde man het skokgolwe deur die klein gemeenskap van Kylemore, buite Stellenbosch, gestuur.

'n 24-jarige man het na bewering Saterdag die bejaarde oom verskeie kere met 'n mes gesteek.

Hy was na bewering besig om by die verdagte se ouerhuis in die tuin te werk.

Terwyl die oom nog besig was om te werk het die verdagte hom aangeval en verskeie kere gesteek.

Volgens 'n anonieme bron het die verdagte die huis in gehardloop en wou hy vir 'n tweede rondte gaan en die omie met 'n skêr steek. Dit terwyl die slagoffer reeds vir sy lewe geveg het.

Die oom het Dinsdag in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Kapt. F.C. van Wyk, 'n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

"Na die mesvoorval op 14 November is daar 'n saak van poging tot moord by Groot Drakenstein-polisie geopen."

Volgens Van Wyk is 'n verdagte Saterdag omstreeks 15:20 gearresteer en het hy Maandag op aanklag van poging tot moord in die hof verskyn.

Van Wyk voeg by: "Die slagoffer is na die voorval na 'n nabygeleë hospitaal geneem waar hy Dinsdag dood is.

"Die klagstaat sal nou na moord verander." 

Volgens Van Wyk bly die verdagte in polisie-aanhouding.



Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters