Verlede maand
Jong ster sterf
tragies:Leighton Douries (links) spog hier met een van sy talle toekennings saam met sy klubhoof en instrukteur, sensei Reagan Forbes.Foto: KALLIE SMIT  ~ 

PORTERVILLE. – Die gemeenskap is in rou gedompel ná die skielike dood van ’n geliefde jong man.

Leighton Douries (21) het op 8 Oktober in die Tygerberg Hospitaal gesterf.

Dít kom nadat ’n aar vier dae vroeër in sy kop gebars en hy bloeding op die brein opgedoen het.

Douries was bekend vir veral sy prestasies as karatekampioen. Hy was juis besig met ’n oefensessie toe die noodlot hom getref het.

Gekwalifiseer

Daar is met hom na die Lapa Munnik Hospitaal in die dorp gejaag.

Hy is toe na die Paarl Hospitaal oorgeplaas voordat hy in die Tygerberg Hospitaal opgeneem is.

Son het vier jaar gelede oor Douries berig toe hy in Johannesburg gekwalifiseer het vir die Japan Karate Association (JKA) se Senior All African Cup. Hy het in dieselfde jaar die kata-kampioen geword in dié toernooi.

Douries het in sy matriekjaar sy swart belt in Shotokan-karate verwerf. En hy het tot met sy dood ’n lys prestasies en toekennings ingeryg wat te veel is om te noem.

Van sy top-prestasies sluit in: Boland Alle Style-kam­pioen 2010 (kata en kumite), Suid-Afrikaanse JKA-kampioen (2014 en 2015), SuperSport-kandidaat (2017), Mans Ope-kampioen (3de plek) op die JKA Suid-Afrikaanse kampioenskappe in 2018, en die lys gaan aan.

Sensei Reagan Forbes, Leighton se klubhoof en instrukteur by die Forbes Karate Akademie, het destyds aan Son vertel dat Douries talle struikelblokke moes oorkom om nie ’n statistiek te word nie.

Hy het ná matriek as persoonlike afrigter by Forbes se gimnasium begin werk.

“Leighton was ’n energieke en baie fikse jong man. Sy dood is vir ons ’n groot skok.

“Hy was bekend vir sy goeie maniere, nederigheid en die feit dat hy nooit geskroom het om ander te help nie. Hy was ’n rolmodel vir die jeug in sy gemeenskap,” sê Forbes.

Leighton se pa, David “Dabba” Douries (50), sê hy en sy vrou, Lena (54), is platgeslaan oor hulle seun se dood.

Hy sê: “Leighton was ons enigste kind. Ons het ook 21 jaar gelede ’n seun in ’n motorongeluk verloor.

“Leighton was al wat ons gehad het. Ek het nie woorde om te beskryf wat ons deurmaak nie.”

Leighton word eerskomende Saterdag vanuit die Verenigende Gereformeerde Kerk begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters