26 dae gelede
Jong gryp dooie se handsak
DOOD NEERGEVAL: Die polisie bedek Sarah Wentzel se lyk.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Dom, gewetenlose jong het ’n vrou se handsak gesteel toe sy op straat dood neergeval het.

Toe hy egter in die oorledene se handsak kyk, was daar niks kontant of valuables in nie.

Die voorval het op AllPay-dag Vrydag omstreeks 07:00 naby ’n kerk gebeur.

Sarah Wentzel (van diep in die 60) was vroegoggend op pad om haar AllPay-oulappie by ’n bank te gaan trek toe die noodlot haar getref het.

Ooggetuies het by Son se aankoms gesê hulle het net gesien hoe Wentzel kliphard op die grond neerval.

“Ons het groot geskrik en onmiddellik probeer om haar te help en die ambulans ontbied,” vertel van die mense nog stomgeslaan.

Volgens die mense het hulle ook kort nadat Wentzel dood neergeval het, gesien hoe ’n jong haar handsak van haar lewelose liggaam vat en weghol.

Die mense sê hulle kon die cops ’n beskrywing gee. Die outjie is sommer vinnig opgespoor en naby die toneel in ’n polisievên gegooi.

Agies

Volgens die geskokte omstanders het paramedici die vrou op die toneel dood verklaar.

Talle agies het nuuskierig op die toneel saam­gedrom.

Een vroutjie op die toneel sê toe sy verneem dat dit Wentzel is, kon sy dit nie glo nie.

“Ons het dan nog nou die dag so lekker by die daghospitaal geklets en sy het baie lekker gelag,” het die vrou nog duidelik geskok gesê.

Die polisie het die plek afgesper. Wentzel se lyk is na ’n morgue geneem vir ’n nadoodse ondersoek.

Die verdagte sal vandag in die plaaslike landdroshof op aanklag van roof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters