27 dae gelede
Jêm bring joy
Wenner-couple: Al hul produkte word in hul fabriek verpak.  ~ Verskaf

’N DUO van Ceres het ’n paar jaar terug hul korporatiewe poste prys gegee om aan hul soete droom van ’n jam van hul eie te werk.

Nigel (39) en Christynn Jacobs (35) het albei 12 jaar ervaring in die voedselbedryf en met hul magdom kennis is Jacobs Jam in die lewe geroep.

Die jaar 2018 was ’n tyd van veranderinge vir hierdie doelgerigte paartjie wat nou al nege jaar getroud is.

Christynn, ’n voedsel­tegnoloog, het toe ook haar en Nigel, ’n voedselbemarker, se eerste baba verwag.

Vandag, drie jaar later, is hul klein Yugo ’n toonbeeld van die groei wat Jacobs Jam ervaar het.

Nigel, oorspronklik van Mitchells Plain, vertel dis vir hom die lekkerste ding om saam met sy vrou te kan werk.

“Ek en Christynn het altyd geweet ons wil ons eie besigheid in die voedselbedryf begin.

“Jacobs Jam het in Maart 2018 by ons opgekom en in dieselfde jaar stel ons toe ’n sakeplan op, registreer­ dit en doen aansoek om finansiering­.

“Toe maak ons fabriek in die hartjie van Ceres sy deure oop. Ons het albei ons alles in dié besigheid belê,” vertel die gesinsman.

Christynn, wat met ’n liefde vir voedsel in Hawston grootgeword het, het resepte in hul eie kombuis begin uittoets en toe van daar af opgeskaal.

“Ons het die beste jams op die rakke gekoop en ons resep vir daai bestaande produk verbeter. Ek geniet wat ek doen,” vertel Christynn.

Die duidelik steeds verliefde egpaar vertel hulle het mekaar destyds ontmoet toe Nigel ’n DJ was en Christynn ’n song request het.

Hulle vertel dis hul uithouvermoë wat mekaar­ aanspoor om kanse te waag.

Motivering

“Ons het ons leefstyl afgeskaal sodat ons die impak en verantwoordelikhede van die besigheid kon hanteer.

“Ons het probeer om baie goed voor te berei, veral vir daai beginstadium van die besigheid. Die advies van ander entrepreneurs en die motivering van familie en vriende het ons ook deur­gedra.

“Elke dag is baie exciting en bring iets nuuts,” vertel Nigel. Hy voeg by Christynn is nie net sy vrou en sakevennoot nie, hulle is ook beste vriende. “Snags lê ons soms tot middernag en gesels oor die besigheid. Dis baie lekker.”

Christynn sê werkskepping is hoog op hul besigheid se prioriteitslys en soos Jacobs­ Jam groei, sal daar vir ander geleenthede kom.

“Daar is sedert­ dag een uitdagings. So, toe die pandemie kom, toe roll ons met the punches. Ons grootste uitdaging is om die produkte op groot supermarkte se rakke te kry.

“Jacobs Jam word tans in 300 winkels in die provinsie verkoop. Ons het baie planne vir die toekoms en ek werk nou aan souse soos tamatiesous en chutney.

“Hoëgehalte-ysbompies sal ook hierdie somer beskikbaar wees. Ons werk ook aan kompetisies en promosies in verskillende mediavorme,” vertel die geesdriftige sakevrou en voedselkenner.

Die vrugte vir Jacobs Jam se produkte word alles binne ’n radius van 100km van hul fabriek­ in Ceres verkry.

Nigel vertel hul appelkose en perskes groei in Montagu, aarbeie in Stellenbosch, granate­ in Wellington en appels en pere in die Witzenberg-omgewing in Ceres en Wolseley.

“Elke dag is ’n uitdaging, maar sodra jy die vrugte pluk, maak dit die pad wat jy gestap het soveel soeter,” sê ’n dankbare Nigel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters