17 dae gelede
Inwoners sien rooi ná hul huise val
CHAOS: Só is die paaie vol klippe gepak.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Nadat die Rooimiere Saterdag huise afgebreek het, het ’n string dinge gevolg – oproer, openbare geweld en die plundering van winkels.

Altesaam 30 mense, onder wie jong seuns, is Maandagaand gearresteer op klagte van openbare geweld.

Inwoners van die Hungry Town-plakkerskamp het die Rooimiere ná hul optrede met klippe begin bestook.

Plundering het gevolg en kinders van so jonk as 10 jaar was na bewering betrokke.

In ’n video in Son se besit, kan duidelik gesien word hoe hordes grootmense en die kids na die drankwinkel storm.

’n Glasdeur word afgebreek en mense stroom die drankwinkel binne.

Daar is weggekom met drank ter waarde van duisende rande. Toe cops by die toneel opdaag, het die mense uitmekaar gespat.

Die meeste drank was toe reeds uitgedra.

Afgebreek

Maandagaand, kort nadat die cops die betrokke video ontleed het, is verskeie mense in hegtenis geneem.

Kapt. Jeff Lekay, plaaslike stasiebevelvoerder, sê kort nadat die Rooimiere hul hokke afgebreek het, het mense die paaie met klippe afgesper.

Motoriste kon nie deur die dorp nie en moes van alternatiewe roetes gebruik maak.

Lekay sê die 30 mense is in hegtenis geneem nadat 4 winkels gestroop is.

Hy voeg by dat nog arrestasies gaan volg.

Die verdagtes in die saak sal môre in die landdroshof in Montagu verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters