20 dae gelede
Inwoners nou sonder huise
Doenig: Geen sinkplaat het hier aanmekaar gebly nadat die afbrekery afgehandel is nie.  ~ Basil Davids

ASHTON. – ’n Pandemie skrik glad nie die Rooimiere af om talle mense se naweek te spoil nie.

Vrydag toe mense van die Hungry Town settlement nog houtgerus in hul shacks sit, het die Rooimiere en wetstoepassers met geweld toegeslaan en die arme mense se sinkhuise tot op die grond afgebreek.

Die inwoners is uit hul huise gesit en moes verslae toekyk hoe die enigste skuiling oor hul koppe afgebreek en hulle sonder heenkome gelos word.

Kinders was histeries en baie het aan hul ouers vas­geklou toe die Rooimiere die inwoners uit hul huise begin verjaag het.

Sonia Fluks sê sy was nog besig om brood in die oond te bak toe ’n Rooimier haar uit haar huis sit.

“Ek het die man nog gevra wat dan nou aan die gang is. Hy’t net gesê dat ek nie nog vrae moet vra nie en hy’t my uit my huisie gesit.”

Fluks sê sy kon net moedeloos toekyk hoe haar enigste skuiling sinkplaat vir sinkplaat afgebreek word.

Die inwoners kla dat hul meubels in die slag gebly het soos die Rooimiere te werk gegaan het.

Opdrag

Die inwoners sê hulle gaan die saak nie daar laat nie. Hulle wil regsadvies inwin.

Son verneem vertroulik dat die Langeberg-munisipaliteit opdrag gegee het om die mense se shacks af te breek.

Siende dat alles oor die naweek gebeur het, kon die munisipaliteit nie kommentaar lewer of sy kant van die saak stel nie.

Die munisipaliteit kon dus ook nie bevestig of die inwoners al voor die tyd hiervan in kennis gestel is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters