13 dae gelede
Inwoners nog in rou oor 3
Siyamcele Sobambela  ~ Jonathan Lestrade

WOLSELEY. – Die gemeenskap hier is steeds in rou.

Volgens Jacob Zallie, ’n gemeenskapsleier, sal die gemeenskap nie gou genees wees nie, veral met die een moordslagoffer wat nog nie geïdentifiseer is nie.

Die dorp is onlangs deur die moord op drie jong vroue geruk.

Oornag

Zallie sê: “Ons sal nie gou van sulke wrede moorde herstel nie. Die pyn is nog te rou.

“Ons lewe sal nie oornag na normaal terugkeer nie.”

Volgens ’n betroubare bron is die staat se ondersoek teen die verdagte, Siyamcele Sobambela, amper voltooi.

Dis nog net die uitslae van die derde slagoffer se DNS-toetse wat uitstaande is.

Die bron sê die saak sal by die volgende hofverskyning na die Kaapse hooggeregshof of die rondgaande hooggeregshof in Worcester verwys word.

Dit kom nadat die verdagte aangedui het hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie.

Sobambela het geen vorige­ oortredings nie en staan nou tereg op drie aanklagte van moord.

Volgens ’n bron is daar geen ander verdagtes in die moordsaak nie en die staat kan met sy saak voortgaan.

Sobambela is aangekeer nadat die lyk van Bernadette Frans (21) buite sy karavaan in die Pine Valley-plakkerskamp gevind is.

Die verdagte se bure het die polisie gebel oor hy Frans na bewering herhaaldelik in sy karavaan aangerand het.

Hy was glo op pad om haar te gaan begrawe toe die cops op hom afkom.

Hulle het ’n graaf op die moordtoneel gekry.

Verskyning

Nog twee lyke is die volgende dag in vlak grafte op ’n oop stuk veld gekry.

Twee slagoffers, Frans asook Miché Pienaar (25), is intussen begrawe.

Sobambela moet nou weer op 9 Desember in die Wolseley­-landdroshof sy verskyning maak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters