23 dae gelede
Inwoners lelik verjaag toe Rooimiere sekeres teiken
AMPER PLAT: Mense kyk verslae na wat oorgebly het nadat die Rooimiere doenig was.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Mense is glo soos wilde honde uit hulle shacks gejaag.

Verlede week is ’n paar gesinne deur die Rooimiere uit hulle sinkhokke gesit.

Die inwoners en hul kids kon net verslae toekyk hoe die Rooimiere hulle huise afbreek.

Die arme mense het nou geen heenkome in dié tyd van die Covid-19-pandemie nie.

’n Gemeenskapsleier, John Roelofse, vertel die mense was ná die voorval baie emosioneel en het sommer ander heenkome gaan soek.

Roelofse sê dat die Rooimiere net in die Oppiekoppie-nedersetting toegeslaan en net sekere wonings afgebreek het.

Getraumatiseer

“Die Rooimiere is vergesel deur Law Enforcement, en hulle het glad guns op die mense gerig,” beweer Roelofse teleurgesteld.

By Son se besoek was g’n mens in sig nie – net die afgebreekte hokkies.

Roelofse sê die arme mense is bevrees en veral die kinders is getraumatiseer hierdeur.

Owenita Sampson, nóg ’n gemeenskapswerker, sê sy ken nie die redes hoekom die Rooimiere net sekere huise afgebreek het nie.

Sampson, wat ook ’n raadslid was, sê die Oppiekoppie-grond is destyds deur die munisipaliteit aan die mense gegee. Die mense kon hul shacks hier opslaan.

Vandag woon meer as 450 huisgesinne daar.

Hulle het ook ’n paar waterkrane van die munisipaliteit ontvang, maar wag nog vir spoeltoilette. Volgens Samp­son woon die mense al ’n dekade op erf 1247.

Mense wat nie deur die genadelose Rooimiere geraak is nie, sê hulle was in daai stadium angstig dat hul huise ook kon deurloop.

Sannie Muller (60) sê sy het al van haar meubels begin uitdra net ingeval die Rooimiere haar huisie bo-op haar kop kom afbreek.

Hulle het egter verby Muller se huisie beweeg en ’n ander huis, waar daar ’n pap babatjie was, platgeslaan.

Rdl. Paulina Hess sê sy weet nie wie opdrag gegee het om die mense se huise af te breek nie.

Oprig

Ben Tobias, wykskomiteelid, meen die huidige situasie word uitgebuit.

Tobias sê nie enige persoon mag sommer uit sy eie ’n shack hier kom oprig nie.

Volgens hom kry mense van die munisipaliteit ’n erfnommer en die huis moet binne 24 uur staan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters