Verlede maand
Inbreker het kerk probeer besteel
Wurm: ’n Inwoner wys hoe die dief homself by die kleinste van gapings moes ingewikkel het om by dié kerk in te kom.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Skelm is op heterdaad binne-in ’n kerk betrap toe hy daar ingebreek het.

Dié voorval het Woensdag omstreeks 23:50 in die Rooms-Katolieke Kerk plaasgevind.

Dié jong boef was nogal slim, of só het hy gedink.

Voordat hy ingebreek het, het hy die kragboks oopgebreek en die krag van die perseel afgeskakel.

Daarna het hy die kerk se vullisdrom gebruik om bo-op die kerk se dak te klim.

Hier het hy ’n pik en ’n ysterpaal gebruik om die diefwering oop te breek.

Die ou het daarin geslaag om die diefwering uit te breek en toe het hy die venster uitgeslaan.

Verbaas

Hy het deur die venster geklim, sowat 3 m na benede gespring en op die vloer te lande gekom.

Pam van Schalkwyk, wat op die kerkterrein woon, sê sy was ten tyde van die inbraak nie op die perseel nie.

“Die sekuriteitsmaatskappy het my op my selfoon gebel om te sê dat die krag afgegaan het,” het Van Schalkwyk nog verbaas vertel.

Die polisie is toe na die kerk uitgeroep.

Hulle het by hul aankoms bo-op die dak van die kerk geklim en deur die stukkende venster aan die inbreker gesê hy moet maar weer terug klim.

By Son se besoek gister het die pik en die ysterpaal steeds op die dak gelê.

Wonder

Binne-in die kerk het die ou luidsprekers, koper­kandelare, ’n projektor en nog ander items gereed gehad om uit die kerk te dra.

Van Schalkwyk het aan Son gesê sy wonder hoe die skobbejak al sy buit byna 3 m hoog gelig sou gekry het om weer deur die venster te vlug.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, sê die 38-jarige verdagte sal vandag in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters