Verlede maand
Iets in Valley nie so wel ’ie
’N BETER LEWE: Karel Swart sê die werknemers is net mooi moeg daarvan om van aalmoese te lewe.Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

GRABOUW. – Wat maak ’n mens met R162 ’n dag? Hoe verduidelik jy aan honger kinders jy’t nie geld om hulle te voed nie?

Só vra Karel Swart, sekretaris van die vakbond Commercial, Steve­doring, Agricultural and Allied Workers’ Union (CSAAWU).

Dít is die rede vir hulle huidige loonstaking.

Sowat 450 permanente en seisoenwerkers van die posh Oak Valley-landgoed staak al langer as ’n week en eis ’n daaglikse loon van R250.

Maar Swart sê dis nie waar hulle eise ophou nie.

“Hierdie onderhandelings van ons kom al van September 2018 af aan en Oak Valley wil eenvoudig nie ingee nie.

“Ons was al lank redelik en geduldig, maar dinge kan nie langer so aangaan nie.

Diskriminasie

“Dan is ons ook baie ongelukkig oor Oak Valley se beleid van ’n single-sex hostel vir swart werkers.

“Bruin werkers bly saam met hulle gesinne in huise op die plaas, maar dis net swart mans wat in die hostel bly en hulle gesinne mag nie eens kom kuier nie.”

Swart sê die CSAAWU beskou dit as growwe diskriminasie teen swart werkers.

“Oak Valley beweer hulle beleid kom al van 1986 aan, maar hulle het geweet ons beweeg na ’n demokratiese dispensasie en moes al alternatiewe gegee het,” sê hy.

Swart eis ook daar moet ontslae geraak word van “labour brokers, wat geld opeet wat na werkers toe kon gegaan het”.

Daarom, meen hy, gaan hulle aanhou staak totdat die werkgewer aan hulle eise voldoen.

Abraham Agulhas, ’n gemeenskapsleier, sê Oak Valley se houding herinner aan die ou apartheidsjare.

“Hulle (Oak Valley) is vasbeslote om aan die einde van die dag alle werkers van die plase af te kry en in plakkerskampe te gaan dump.

“Moenie ’n fout maak nie – dié optrede is ook polities gedrewe, want as grondonteiening sonder vergoeding eendag in plek gestel word, sal hierdie werkers op hulle huise aanspraak kan maak en dit is wat Oak Valley wil verhoed,” sê Agulhas.

Volgens hom gaan hulle alle organisasies in Grabouw mobiliseer om die staking te ondersteun.

Verloor

“Ons het al die ondersteuning van die taxi-verenigings. Ons gaan ook verbruikers bewus maak van Oak Valley se verskillende produkte en hulle vra om dié produkte te boikot,” voeg Agulhas by.

Werkers was sku om oor hulle lot te praat. Baie van hulle het gesê hulle wil nie iets sê wat hulle dalk hulle werk kan laat verloor nie.

Christopher Raw­bone-Viljoen sê in ’n verklaring hulle voldoen ten volle aan die nasionale Wet op die Minimum Loon.

Hy sê: “Tydens die oestyd verdien ons permanente werkers daagliks meer as R250 en seisoenwerkers sowat R230.

“Tans bly daar 59 swart werkers in ons hostel, wat uitgefaseer word.

“Dit is nie Oak Valley se verantwoordelikheid om aan alle werkers behuising te verskaf nie.”

Rawbone-Viljoen sê boonop verskaf Oak Valley gratis vervoer van en na die werkplek vir die werkers, gratis vervoer skool toe en terug vir leerders, ’n begrafnisplan van R10 000 vir werkers, tersiêre beurse en ’n gelisensieerde crèche vir 64 van die werkers se kinders.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters