2 maande gelede
Hy is die 'ware David'
BEWYSE: David Solomons sê dit is sý ID-boek.  ~ Verskaf

HY’S in ’n stryd om sy eie identiteit gewikkel.

David Solomons (54) veg nou al langer as ’n jaar om sy identiteit alleenlik te behou.

Dié boorling van die Paarl deel sy volle identiteit – naam, van, geboortedatum, en ID-nommer – met nog ’n man van Wellington.

Hoewel Solomons uitgevind het dat die Wellington-man in Julie 1966 gebore is, is die ID-nommers presies dieselfde en dít is waar sy probleme begin het.

Ingedruk

Solomons het einde 2019 uitgevind dat hy sy identiteit met iemand anders deel toe ’n maatskappy hom skakel om te sê daar is geld wat aan hom betaal moet word, maar hy het nog nooit vir die maatskappy gewerk nie.

“Ek het toe na die maatskappy gegaan en hulle het op hul system my ID-nommer daar ingedruk en toe kom my volle naam en van op, asook my adres, maar die foto op die stelsel was van ’n ander man,” vertel Solomons.

Hy het toe onmiddellik na binnelandse sake gegaan om navraag te doen.

“Hulle het vir my gesê my vingerafdrukke is nie op die stelsel nie en het dit weer geneem en aan hul hoofkantoor in Pretoria gestuur om dit te verify, maar intussen het ek my deernis-grant verloor omdat die ander man ook die deernis kry.

“Ek het ook die Covid relief grant gekry, maar toe word dit ook gestop omdat hulle gesê het daar is klaar iemand wat dit kry.

“En dit het alles veroorsaak dat my munisipale rekeninge agterstallig geraak het omdat ek nie werk nie en geen inkomste het nie,” sê ’n erg moedelose Solomons.

Moedeloos: David Solomons sê hy wil nie sy identiteit verloor nie.

Hy sê verder dat sy naamgenoot ook in die hospitaal was vir mediese behandeling en dit het ook sy probleem geword.

“Die ambulans het hom hospitaal toe geneem en al sy rekeninge kom alles na my toe. Ek kry elke week boodskappe en oproepe van skuldinvorderaars en hulle wil weet wanneer ek die skuld gaan betaal.

“Ek moes hospitaal toe gaan en vir hulle inlig, maar daar het ook niks van dit gekom nie. Ek kry steeds oproepe en boodskappe,” sê Solomons.

Hy sê hy het in kontak gekom met sy naamgenoot.

Suster

Die man het aan hom verduidelik dat hy sy ID-boek in ’n brand verloor het. Hy het bygevoeg dat hy in 2012 aansoek gedoen vir ’n ander identiteitsboekie.

“Ek het hom opgesoek en hom gekry. Ek het vir hom my ID-boek gewys en vir hom gesê wie ek is. Hy het vir my gesê dis nie sy ID-boek nie, maar binnelandse sake het dit vir hom gegee. Sy suster was saam met hom en het gesê hulle gaan nie worry nie. Hulle aanvaar dit so.

“Ek het vir hulle gesê dis nie reg nie. Ek is die een wat getroud is. Ek het kinders en die adres waar ek woon, is myne,” sê hy.

Solomons sê hy’s vol stres weens die krisis met sy identiteit en dat dit sy familie baie bekommerd maak.

BEWYSE: David Solomons sê dit is sý ID-boek.

Rekord

“My vrou is baie ongelukkig. Sy werk al 36 jaar en ek is die main beneficiary op haar dokumente en daar is polisse ook.

“As dit nou so kom dat iets moet gebeur, dan sal hulle nie gehelp word nie omdat my ID nie ooreenstem met wat op rekord is nie. En dit ook omdat binnelandse sake vir my ’n nuwe ID-nommer wil gee.

“Dis ’n lang proses en dit maak ons baie bekommerd. Ek verstaan nie waarom ek ’n nuwe nommer moet kry nie. Die fout is nie myne nie.”

Die departement van binnelandse sake is genader om meer lig te werp op Solomons se penarie.

Teen druktyd het hulle egter nog nie op Son se navraag gereageer nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters