25 dae gelede
Hulle ly 'oor ou se mistake'
Ontevrede: Plaaswerkers meen hulle word onregverdig behandel en vat die saak nou verder.  ~ Kallie Smit

’N GROEP plaaswerkers moet nou sekere werksdae opsy staan terwyl mense van buite elke dag werk kry.

So kla ’n groep werkers van die plaas De Hoek Estate­ net buite Saron.

Om als te kroon woon hulle almal op die plaas, maar mense van ander dorpe so ver as Piketberg word aangery om te werk terwyl die plaasbewoners aangesê is om ’n aantal dae “af te lê”.

Jennifer Syster (25) sê hulle het verlede Woensdag gehoor hulle hoef nie Vrydag te kom werk nie.

Sy sê: “Daar is geen rede gegee vir dié besluit van die bestuur nie.”

Sy sê luidens hulle kontrakte is hulle permanente werkers. Nou moet hulle terugstaan vir die ander werkers.

Die groep sê hulle het verneem dié besluit is geneem oor een van die bestuurders draad gekoop het waarvoor daar nie begroot is nie.

Nou wil hulle die werksdae sny sodat daar geld bespaar kan word sodat die budget weer kan klop.

Daar’s egter talle ander kwessies waaroor die werkers ontevrede is.

Francis Solomons (35), wat van geboorte af op die plaas bly, sê: “Die eienaar, Kobus de Kock, het 17 jaar gelede toe hy die plaas gekoop het, belowe dat hy ons huise gaan verbeter.

“Maar hulle het nog net van die ruite vervang. Net die helfte is gedoen en ons moes die helfte van die geld betaal.

“Van die huise het nie toilette nie en die mure het groot barste in.”

’n Bestuurder (wie se naam aan Son bekend is) wat twee weke gelede op die plaas begin werk het, het dit duidelik gemaak hy het ’n vuis soos ’n ton bakstene en sy kop is so hard soos yster.

Die werkers sê hy wil hierdeur te kenne gee hy is ’n vuisslaner en ’n kopstamper. Dit is ook glo dié bestuurder wat die balls-up met die budget gemaak het en nou moet die werkers daarvoor betaal.

Hulle beweer hy is rassisties. Die werkers sê kontrakwerkers word byna dubbel die bedrag betaal wat hulle verdien.

De Kock het aanvanklik die aantygings ontken, maar later gesê hy betaal wel die kontrakwerkers meer om hulle vervoerkoste te dek en vir kommissie vir die kontrakteurs.

Oor die ander klagtes sê hy: “Daar was ’n geweldige misverstand Vrydag oor ’n klomp goed wat niks met die waarheid te doen het nie. Die besigheid is heeltemal uitgesort.

“Almal is kalm, daar’s geen probleem nie. U kan die mense gerus weer kontak.”

Tog reageer die werkers anders: “Hy vertel leuens! Ons gaan dit nie so los nie!”

Adam Swarts (43) sê: “Ek het Maandag vir De Kock om verskoning gevra oor ek Vrydag op hom gevloek het, maar ek was te kwaad.

“Hy wil voorgee als is uitgesort, maar drie van ons moet nou voorkom. Ons sal hulle tot in die arbeidshof vat as dit moet.”

Kommissaris

Naomi Betana van die Witzenberg Rural Development Centre sê hulle het die werkers se klag na die CCMA verwys.

“Die CCMA sal hulle kommissaris uitstuur om die saak te hanteer.

“As daar klagtes is wat nie onder die CCMA se beheer val nie, sal dit na die department van arbeid verwys word,” het Betana verduidelik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters