13 dae gelede
Hul krismis kom so ’n bietjie laat
groot geskenk: Deraldine en Michael Moya voor die duur deur waarvoor hulle so lank gewag het.foto’s verskaf  ~ 

PAARL. – ’n Man wat ’n treurige Kersfees gehad het omdat hy nie sy vrou se Krismisboks betyds vir haar kon gee nie, smile weer.

Michael Moya (39) sê dit is net deur Son se toedoen dat hy nou weer ’n gelukkige vrou het.

Son het Maandag oor Moya berig nadat hy ’n nuwe kombuisdeur vir sy vroulief, Deraldine, gekoop het.

Die deur sou ’n surprise vir haar gewees het vir Krismis, maar toe kry Michael eerder self ’n onaangename verrassing toe die deur nie te voorskyn kom nie.

Hy sê hy het die hele storie geheim gehou, want hy het geweet sy vrou sou nie gelukkig wees as sy hoor hy het R5 000 vir ’n deur betaal wat hy nog nie eens gesien het nie.

Die egpaar het reeds vantevore R3 000 verloor toe ’n kooptransaksie skeefgeloop het.

Michael het op 30 November die geld aan Ismail Patel van C I Aluminium in Athlone Industria betaal toe dié die afmetings kom neem het en hom toe oortuig het om die volle bedrag te betaal, anders sou hy dit nie teen dieselfde prys kry nie.

Moya vertel: “Hulle sou die deur op 8 Desember kom installeer, maar toe maak hulle verskoning en sê iets het voorgeval.

Beloftes

“Hulle sou toe op 18 Desember kom, maar hulle het nooit opgedaag nie.

“Dit is toe dat my worries begin.

“Hulle het net beloftes gemaak dat hulle sou kom, maar dit het nooit gebeur nie.

“Hulle het later nie meer my oproepe beantwoord nie.

“Ek was besig om planne te maak om ’n prokureur te gaan sien toe ’n kollega my aanraai om my storie in Sonte plaas.”

Son kon ook geen antwoord by dié aluminiumplek kry nie, maar nadat Moya se storie Maandag in die koerant verskyn het, is daar weer probeer om vir Patel in die hande te kry.

Courtney Paulse het die foon opgetel en gesê dat hy onlangs die maatskappy gekoop het.

Hy het probeer verduidelik hoekom hulle nie Moya se deur aan hom verskaf het nie.

Toe hy daarop gewys is dat Moya baie slegte kliëntediens van sy maatskappy ontvang het nadat hulle weg is met sy geld en ’n klomp leë beloftes, het Paulse erken dat Moya nie sulke swak diens verdien nie.

Dankie

Hy het belowe om Woensdag Moya se nuwe deur te installeer. Paulse het toe sy woord gestand gedoen en die deur gaan insit.

’n Opgewonde Moya sê Woensdag : “Ek is vandag bly ek het my kollega se raad gevolg en vir Son gekontak.

“Ek wil baie dankie sê dat nadat die berig reeds geplaas is, Son steeds pogings aangewend het om die maatskappy se bestuur in die hande te kry en hulle toe oorreed het om hul plig na te kom.

“Ek is bly my vrou se droom is nou bewaarheid.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters