21 dae gelede
Huisvriend is vas vir moord
SAD: Elsie Booysen kan nog nie glo haar enigste meisiekind is so wreed van haar weggeruk nie.  ~ Foto Verskaf

DIE gemeenskap van Barrydale is kwaad nadat ’n tienermeisie se lyk met veelvuldige steekwonde aan haar nek en bors by die tiep gevind is.

Liezel Booysen (14), ’n leerder aan die Laerskool BF Oosthuizen, is Saterdagaand vermoor.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is ’n 37-jarige man in hegtenis geneem vir haar moord.

“Die polisie het Saterdag ’n klag van ’n vermiste persoon ontvang. Gedurende die soektog het hulle die meisie se lyk op die plaaslike stortingsterrein gevind.”

Volgens ’n familievriend van die Booysens is die verdagte ’n huisvriend.

“Hy was ’n huisvriend van die familie en het nog die Vrydagaand voor die moord by die Booysens se huis gekuier,” bevestig Amanda Swart, raadslid van die dorpie.

Swart sê Liezel en haar 12-jarige beste maatjie het na bewering die man se kamer skoongemaak vir geld.

Sy vertel: “Toe sou hy geld in die dorp gaan trek het. Hulle het toe saam met hom geloop om hul betaling te kry.”

Die meisies het egter nooit die ATM gehaal nie, want die man het ’n ompad met hulle geloop. Toe die meisies daaroor vra, het hy sy storie verander en gesê die geld is by sy baas.

“Die stortingsterrein is ver uit die dorp uit. Daar is sulke diep afgronde (gate).

“Hy het toe glo vir die 12-jarige gesê om te wag by die bome terwyl hy en Liezel die geld by sy baas gaan haal.”

GEEN BAIL: Vroue in die gemeenskap betoog vroegoggend voor die hof. Foto Verskaf

Die 12-jarige het gehoor hoe Liezel skreeu en het terug gehardloop om haar mense te gaan sê. Luidens gerugte is die verdagte weer huis toe en het hy sy klere gaan change.

Sy huismense is baie hartseer oor die voorval. Sy niggie sê hy het altyd ’n mes by hom gedra. Hy het na bewering baiekeer aartappels vir die gesin geskil met die einste mes.

Toe die soekgeselskap by die tiep kom, het hulle op Liezel se lyk afgekom. Sy is keelaf gesny en sy het verskeie steekwonde aan haar bolyf gehad.

“Hier was al moorde in die verlede, maar ons gemeenskap het nog nooit so ’n wrede moord op ’n jong kind gesien nie.

Minderjarige

“Ons mense is ongelukkig en hartseer,” sê Swart.

Die verdagte was glo vantevore al in die tronk.

Son verneem dat nog ’n minderjarige kind ’n klag van seksuele aanranding teen hom aanhangig gemaak het nadat hy Saterdag in hegtenis geneem is.

Die gemeenskap het gister voor die Swellendam-landdroshof betoog en gevra dat hy nie moet bail kry nie.

Hy verskyn volgende week weer in die hof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters