27 dae gelede
Huise binne sopnat ná reën
DEURDRENK: Harde reënbuie het die lewe vir baie plakkerskamp­inwoners moeilik gemaak.  ~ Basil Davids

MCGREGOR. – Talle bewoners van sinkhuise in die plakkerskamp hier het Dinsdagnag sopnat gereën.

Harde reënbuie het oor die hele vallei uitgesak en mense moes teen Woensdagoggend emmers gebruik om die vloedwater uit hul sinkhuise te skep.

Dit kom nadat die weerburo se voorspelde kouefront triestige eendeweer meegebring het.

Van die mense het voorsorg getref deur ekstra plastiekseile oor hul dak te gooi sodat die reën nie in hul woonplek kon kom nie.

Beskadig

Baie huisies het egter deurgeloop en van die mense het met hul kinders gaan skuiling soek óf by bure óf by familie se huise wat nie te erg skade gely het nie.

Maria Steenberg is een van die ongelukkiges wie se sinkhuisie omtrent hewig deurgeloop het.

“Ek en my kinders moes vinnig die water met emmers uit die huis skep voordat van ons meubels beskadig word,” vertel Steenberg.

Volgens haar hoop sy ook soos baie ander mense dat sy binnekort ’n nuwe Hop-huis sal kry.

Wynand Moses sê die reën maak nie net hul huise sopnat nie, dit verspoel ook hul paaie gereeld wanneer dit so hard neerval.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters