2 maande gelede
Hospitaal van selfmoord
hartseer: Malete Wellington (70) soek antwoorde nadat haar seun sy eie lewe geneem het.  ~ 

TWEE mans het die naweek selfmoord gepleeg by die Paarl-hospitaal.

Nou soek die families antwoorde.

Leon Wellington (43) van Paarl-Oos het Saterdag­oggend deur ’n venster op die sesde vloer na sy dood gespring.

Hy het blykbaar die ruit stukkend geslaan om uit te kom.

’n Man van die Oos-Kaap het hom Vrydagaand in sy saal opgehang.

Dié man se familie­ wou nie sy naam aan die media bekend maak nie.

Dit is die tweede geval waar ’n pa- siënt by die sesde vloer deur ’n venster spring en selfmoord pleeg.

Fortuin Fransman (50), ’n kankerpasiënt, het ook verlede jaar van die sesde vloer afgespring.

Die minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, het gister die families by die hospitaal besoek.

Volgens Mbombo het hulle die vensters toegesweis ná die vorige voorval.

KWAAD: Jennifer Cupido sê haar broer se toestand het verbeter. Foto’s: JONATHAN LESTRADE
Hier uit: Dr. Nomafrench Mbombo, minister van gesondheid, by die venster waardeur Leon Wellington gespring het.
SELFMOORD: Leon Wellington (43) het deur ’n venster vanaf die sesde vloer van die Paarl-hospitaal na sy dood gespring.
hartseer: Malete Wellington (70) soek antwoorde nadat haar seun sy eie lewe geneem het.

Mbombo sê: “Ons is nog besig om albei gevalle te ondersoek.

“Die mans was nie geestelik siek nie.”

Volgens Wellington se hartseer ma, Malete (70), het haar seun nie selfmoordneigings gehad nie.

Wellington sê: “Hy het Donderdagaand by die huis siek geraak.

“Hy was kortasem en ons het ure vir die ambulans gewag.

“Sy oë het begin omdop. Toe het ons hom met ’n bakkie hospitaal toe geneem.

“Hulle het hom onmiddellik op suurstof gesit.

“Sy longe was opgeswel.”

Volgens sy suster, Jennifer Cupido (45), het sy hom Vrydag besoek en sy toestand was baie beter.

Jennifer sê: “Hy het goed gelyk en was glad nie teneergedruk of depressief nie.

“Hy het nog vir my ’n sigaret gevra om te rook.

“Ek het gesê hy kan nie rook nie, want sy bors gaan weer toetrek.

“Ek is baie ontsteld en wil graag weet hoe hy daai ruit kon uitgestamp het.

“Waar was die verpleegpersoneel toe hy dit gedoen het? Die hospitaal moet verantwoordelikheid neem vir my broer se dood. Ek soek by hulle antwoorde.

“Hy was in hulle sorg.”

Volgens Leensie Lötter, woordvoerder vir die departement van gesondheid, het die hospitaal onlangs ekstra sekerheidsmaatreëls aangebring ná verlede jaar se voorval.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters