24 dae gelede
Hoof moker my kind – pa
ongelukkig: Dynian Lottering by sy seun, Quan (12).FOTO VERSKAF  ~ 

GEORGE. – ’n Gestremde klonkie is na bewering deur sy skoolhoof aangerand terwyl twee ander onnies sy arms vasgehou het.

Maar nou stry die hoof, Karools Hauptfleisch van die Carpe Diem- spesiale skool vir gestremdes, en sê die 12-jarige het hom en die onnies aangerand.

Quan Lottering is met water op sy brein gebore en is op kroniese­ medikasie.

Die seun is baie klein vir sy ouderdom en raak soms hiperaktief.

Die outjie se daddy, Dynian­ Lottering, sê die voorval het op 20 April plaasgevind.

Lottering sê hy het rooi merke aan Quin se nek opgemerk.

“Toe ek hom daaroor uitvra, wou hy eers nie sê wat gebeur het nie,” sê ’n teleurgestelde Lottering.

Later die aand het Quan toe met die hele sak patats uitgekom.

Die seun het vertel die hoof en die twee onnies het hom gegryp.

Die hoof het hom daarna aan die nek gegryp en in die lug rondgeswaai, vertel Quan vir sy pa.

Lottering sê toe hy die hoof die volgende dag konfronteer, het hy ’n ander storie gespin.

Volgens die hoof het sy seun histeries begin raak en wou Quan hom aanrand.

Dit was glo toe dat die twee onnies hom kom vashou het voordat hy die hoof kon slaan.

“Dit is pure bog.

“Waar kan my tengerige seun drie grootmense aanrand?”

’n Hoogs ontstelde Lottering het toe ’n klag by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) en die polisie gaan aanmeld.

Volgens hom is Quan nou al vier maande by die huis en hy is verveeld. Hy verloor ook baie werk.

Lottering sê wat hom so die duiwel in maak, is dat die hoof tot op hierdie uur nog nie vervolg is nie.

Volgens hom is sy seun erg gefrustreerd by die huis.

Hauptfleisch is vir navrae genader, maar hy wou nie kommentaar lewer nie.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het nie op Son se navrae gereageer nie.

Roy Jansen by die WKOD hanteer Lottering se saak, maar wou ook nie kommentaar lewer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters