9 dae gelede
Honger ouma vat pad
SKOONVELD: Mense worry oor wat van ouma Fiela Daniels geword het.  ~ Foto Verskaf

SARON. – Verskeie spanne soek tans kliphard na ’n bejaarde vrou wat kort ná Kersfees spoorloos verdwyn het.

Ouma Fiela Daniels (73) het op 26 Desember van haar blyplek af die veld in geloop en is sedertdien nog nie weer gesien nie.

Daniels woon by haar seun en skoondogter in ’n hok op ’n stuk grond wat aan Hop­land grens.

Bekommerde inwoners het Dinsdag by Son om hulp aangeklop in ’n poging om inligting te bekom wat hulle dalk kon help om die bejaarde vrou op te spoor.

Steven en Elsie Louw sê hulle is baie bekommerd oor ouma Fiela juis oor sy so loop.

Elsie vertel: “Antie Fiela het byna elke dag by ons kom aanklop vir iets om te eet of vir ’n rookdingetjie.

“Ons kry haar baie jammer juis omdat sy so oud is en nou nie meer by haar volle positiewe is nie.”

Die mense vertel daar word nooit toegesien dat die ouma was en skoon klere aantrek nie. Sy stink glo heeltyd na urine.

Daar is selfs bewerings dat mans onsedelike dade met die ouma pleeg wanneer sy so aan die loop gaan.

Hazel Arries (20), ouma Fiela se kleindogter wat na haar omsien, sê haar ma kyk deur die dag na haar ouma terwyl Arries by die werk is.

’n Bewoë Arries sê die feit dat haar ouma nie by haar volle verstand is nie, is baie swaar vir hulle.

FYNKAM VELD: Die owerhede soek nou oral na die ouma. Foto: Kallie Smit

Sy sê: “Sy herken ons nie meer nie. Ek het ’n dag nadat sy weggeraak het, na die polisie toe gegaan en ook self na haar gesoek.

“Ek was ook by die welsyn om te kyk of hulle haar in ’n ouetehuis kan sit, maar ek het nog niks van hulle gehoor nie”

Versterk

Daar is Woensdagoggend met ’n intensiewe soektog na ouma Fiela begin.

Die polisie, peace officers van die Drakenstein-munisipaliteit, die brandweer, ruiters op perde en lede van die gemeenskap het aan die soektog deelgeneem. ’n Soek-en-reddingspan van Worcester het later die dag die soekgeselskap versterk.

’n Peace officer wat aan die soektog deelgeneem het, het Son vertel hoe ’n 20-jarige vrou haar so drie maande gelede kom sê het ouma Fiela het in een van die strate in Hopland ’n baba-kimbie langs die straat opgetel en die inhoud daarvan begin eet, so honger was sy.

Enige een wat inligting het wat kan help om ouma Fiela op te spoor, kan Saron se polisie bel by 023 240 8000. Andersins, bel 079 894 1331 of 082 443 4302.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters