22 dae gelede
Hoe het hulle so uitgehaak?
laslappie: Richard Prins jr. se oorlel is darem weer netjies vas­gewerk.  ~ 

“DIE eerste ding wat ek gaan doen, is om ad­judant-­offisier May persoonlik te gaan bedank.”

Richard Prins jr. is hier vanuit sy hospitaalbed aan die woord.

Al is hy nog vol steke waar skeurwonde geheg moes word, lyk hy klaar baie beter.

Prins is steeds in die Tyger­berg Hospitaal.

Hy herstel nog nadat sy eie honde, twee pit bulls, hom laas naweek op die plaas Elandsberg byna verskeur het.

Die plaas is by Genadendal geleë.

Son het Dinsdag berig ’n cop, AO Sammy May, het die jong man se lewe gered deur die twee honde op ’n ver afstand dood te skiet.

Prins het aan Son gesê die ordeal gaan nog jare by hom spook.

Vir hom bly dit ’n raaisel waarom sy honde, Tyson en Bruno, hom aangeval het.

“Hulle was nog nooit aggressief teenoor my nie.

“Ek en my vriend, Boytjie, het daai middag saam geloop toe ek die hek na ons plot oopmaak,” vertel hy.

“Die honde het nog rustig daar eenkant gelê.

“Ek het Boytjie gekeer om saam in te kom oor die honde hom nie like nie.

“Hy het toe aangeloop en ek het die hek agter my toegemaak.

“Die honde het opgevlieg en toe teen die draad langs verwoed agter Boytjie aangehardloop.

“Ewe skielik kom eers die kleiner hond en toe die groter hond terug en begin my aanval.

“Ek het toe op die grond neergeval. Dít was toe dat die grote my aan my kop beetkry.

“Ek moes dêm keer dat die honde my nek byt.

“My arms was al moeg van die keer.

“Van die pyn het ek my bewussyn verloor.

“Toe die skote uit adjudant May se pistool begin klap, het ek weer by­gekom.”

Volgens Richard weet hy van die uiteenlopende kommentaar op die gebeure.

“Nee, ek het nie die honde geterg nie,” verklaar hy.

“Ek het hulle gehad vandat hulle puppies was.

“En ek het hulle nog nooit afgeskeep of mishandel nie.

“En ek het hulle nog daardie oggend genoeg kos gegee.

“Ons het ’n groot plot, waar hulle vrylik kon rondhardloop en speel.

“Ek kan net God bedank dat Hy daardie polisieman daardie dag oor my pad gestuur het.”

Intussen makeer Richard nog plastiese chirurgie aan die wonde aan sy lyf.

Hy sal heel moontlik volgende week uit die hospitaal ontslaan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters