3 jaar gelede
‘Henri se pee is nie nou belangrik’
henri van bredaFoto’s: peter abrahams  ~ 

’N NAT broek is ’n klein, onbelangrike detail in die bylmoordsaak van Henri van Breda.

Só het die Kaapse hooggeregshof gister gesê aan die neuroloog dr. ­James Butler, wat epilepsie by Henri gediagnoseer het.

Die staat voer aan Henri het sy ouers, Martin en Teresa, en sy broer, Rudi, in Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-wynlandgoed in Stellenbosch met ’n byl doodgekap.

Henri se suster, Marli, het kopwonde gehad.

Henri staan verder tereg op aanklag van dwars­boming van die gereg nadat hy glo aan die toneel gepeuter het.

Adv. Susan Galloway, die staatsaanklaer, het Butler, die verdediging se laaste getuie, vir ’n tweede dag onder kruisverhoor geneem.

Hy het vroeër getuig Henri het die nag van die moord ’n epileptiese aanval gehad.

Hy het gesê dit verduidelik hoekom Henri hom natgemaak het, aan geheueverlies ly en daardie nag 2 uur en 40 minute lank bewusteloos was.

Galloway het dit aan hom gestel dat in Henri se eie weergawe dit weens ’n breinbesering was dat hy bewusteloos was en nou is dit die epileptiese aanval en die gevolge daarvan.

Regter Siraj Desai het Butler met vrae bestook oor hoe hy byna drie jaar ná die moorde kon bepaal dat Henri daardie nag ’n epileptiese aanval gehad het.

Butler het aangedui dis iets wat hy in sy loopbaan baie doen.

Desai het verder gesê: “Die nat broek is ’n klein, onbelangrike detail in die agtergrond van wat hier gebeur het.”

Verslag

Butler het geantwoord: “Ek sal aanvoer die inkontinensie, soos ek in my verslag gesê het, is van kardinale belang in dié geval. En ek staan daarby.”

Intussen het ’n organisasie wat vir die regte van epileptiese mense veg, op Henri se diagnose gereageer.

Epilepsy SA sê in ’n verklaring: “Dié diagnose het die indruk geskep dat mense met epilepsie gevaarlik is en dinge kan doen sonder dat hulle daarvan bewus is.

“Epilepsie maak ’n mens nie gevaarliker as wat hy of sy reeds is nie en die toestand moenie gevrees word nie.”

Die moordverhoor is vir slotbetoë tot 12 Februarie aanstaande jaar uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters