7 dae gelede
Helde da bomb
Groot skade: Daar is amper niks van die trok oor nie. Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

WORCESTER. – “Dit het gevoel asof die aarde gaan oopbars.”

So het ’n angstige inwoner gesê oor die gasontploffing wat die andersins rustige dorpie gister geruk het.

Die geweldige ontploffing in Hoogstraat in die nywerheidsgebied het die gemeenskap gister omstreeks 06:00 laat skrik.

Dit kon ver en wyd gehoor word. ’n Ruk later was daar nog ’n ontploffing.

Joseph Snyders (32), ’n werker in die area, was op pad huis toe van nagdiens af toe die rumoer hom helder wakker skok.

Snyders sê hy was pas verby ’n verkeerslig toe hy die klipharde slag agter hom op die hoek hoor waar hy oomblikke vroeër was.

“Toe ons by die robot stop, het ek gesien hoe die een trok met ’n gastenk ’n paal tref. Hy het toe reverse en die paal het teen sy tenk geval.

“Eers het ons net ’n harde bubble-geluid gehoor, maar toe ek omkyk, het ek net blou vlamme gesien ... en toe ... kaboem!” vertel hy oor die moewiese slag.

“Tien minute daarna het nog ’n harde geluid gevolg.”

Snyders sê die hele ervaring was soos ’n movie.

“Jy voel net daai dril deur jou lyf en ruik die gas.”

Intussen word Lin-Harr Claasen (26) en Klaas de Vos (47) deur wetstoepassers en die burgemeester van Worcester as helde beskryf.

Dié twee het in te middel van die drama hulle eie lewe in gevaar gestel om twee slagoffers te red.

De Vos het hospitaal toe gejaag met Bennie Koch, wat ernstige beserings aan sy gesig en lyf opgedoen het. De Vos sê die eerste ding wat deur sy mind gegaan het, is dat die man moet lewe.

“Ek was in ons werkgebou toe ek die man om hulp hoor skreeu.

“Toe ek buite kom, was hy in sy bakkie vasgekeer. Hy was reeds aan die brand.

“Ek het hom uit die bakkie gehaal en met hom hospitaal toe gejaag.”

Claasen sê hy was ná die eerste slag op die toneel. Ná die tweede ontploffing het hy ook ’n man uit sy bakkie gehelp. Dié het beserings aan sy hande, bors en rug opgedoen.

“Daar was ’n forensics-ou saam met ’n tannie en ’n oom. Die oom se hande en arm was erg gebrand.

“Toe ons probeer om die bakkie uit die pad te kry, het daar nog ’n harde slag afgegaan,” onthou Claasen.

Burgemeester Antoinette Steyn het die twee vir hulle dapperheid geprys.

“Dié twee manne het sonder om twee keer te dink ander mense gehelp.

“Hulle het dit sonder opleiding gedoen en hulle eie lewe in gevaar gestel.

“Vandag sien ons hulle as helde.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters