20 dae gelede
Held in die sel
ONGELUKKIG: Colin Phillips (16) was baie bang in die selle.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Skoollaitie het sy lewe op die spel geplaas toe hy nege vermeende diewe in hul spore wou stop.

Maar pleks daarvan om die arme kind ’n held te noem, het cops die brawe seun in ’n polisiesel gaan toekap.

Colin Phillips (16), ’n gr. 8- leerder aan die Langeberg Sekondêre Skool, woon op die Proefplaas buite die dorp.

Colin sê Saterdagmiddag toe hy op pad plaas toe gestap het en verby die plaasbestuurder se huis loop, het hy ’n verdag wit bakkie voor die huis gewaar.

Donker

Colin sê hy het toe stil gaan staan en weggekruip.

Ná ’n ruk het hy gesien hoe vreemde ouens met maskers meubels en ’n TV agter op die bakkie laai.

“Ek het onmiddellik geweet dis skelms wat inbreek en met die meubels gaan wegry,” vertel Colin.

Volgens hom het hy nie ’n selfoon nie en kon nie die polisie in kennis stel nie.

Colin sê hy het ook geweet die plaasbestuurder was nie oor die naweek tuis nie.

“Ek het toe nader aan die huis beweeg, maar een van die mans het my gewaar en toe na die ander geroep,” vertel hy.

Volgens hom het hy gesien hoe vyf mans weghardloop.

“Ek het agter die huis gaan wegkruip en toe die honde, wat my baie goed ken, losgemaak sodat hulle die ander moet byt,” vertel die seun.

Volgens hom was hy bang want hy het nie geweet of die mans gewapen is nie.

“Ek het toe in die huis in gegaan en gesien die voordeur staan oop,” verduidelik hy.

Volgens hom het hy gesien hoe die res van die skelms in die bakkie klim en wegjaag.

Colin sê hy het toe huis toe gehardloop en die polisie gebel.

Volgens Colin was dit reeds donker toe die polisie eindelik opdaag.

Sonder om enige vrae te vra, só vertel die seun, het cops hom agter in die vên gestop en in ’n sel gaan toesluit.

“Ek het in daardie stadium nie my masker by my gehad nie, en hulle het my ook – sonder om my hande te sanitise – tussen ander mense laat sit,” sê die seun.

Volgens hom was daar ook nie juis sprake van social distancing nie.

“Ek kon die nag nie slaap nie, want ek was baie bang,” sê hy.

Klagte

Colin sê dis die eerste keer in sy lewe dat hy in ’n polisievên moes klim het en hy was ook nog nooit in ’n sel nie.

“Ek is Sondag weer vrygelaat en ek weet tot nóú toe nie wat die klagte teen my was nie.”

Colin vermoed dat die cops hom dalk toegesluit het, oor hy die Rampbestuurswet of Covid-19-reëls oortree het, aangesien hy daai tyd van die aand nog buite was.

“Ek wou nog verduidelik van die inbraak, maar hulle wou niks hoor nie,” het Colin gesê.

Colin se pleegma, Sanna Phillips, sê sy voel sleg dat die kind in die selle was.

“Ek was die hele nag bekommerd.”

Sy sê sy gaan met Opod hieroor praat.

Son kon nie kommentaar by die cops kry oor hoekom die kind in die selle was nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters